BlogsOpinion

Boere verloor weiding terwyl ons die son geniet

Almal is baie opgewonde oor die heerlike sonskyn na die winter, waar boere in sommige provinsies hard aan die veg is teen veldbrande.

Kyk nou maar na die nuus in verband met die veldbrande in die droë areas.

Dit is verskriklik om te hoor dat daar selfs mense dood is – mense wat deur reuse veldbrande oorval is sowel as diere wat dood gebrand het.

Selfs brandweermanne is oorval deur die rook en een het selfs 50% brandwonde opgedoen.

Ons sit in die dorpe, kyk na die gebeure op TV en lees daarvan in die media, maar besef nie die impak wat dit op die betrokke mense se lewens het nie.

Iemand breek in by ons huis en ons is erg ontstel daaroor, want die diewe het die privaatheid van jou huis binnegedring en/of kosbare besittings gesteel.

Maar hierdie boere probeer hul besittings beskerm deur voorbrand te doen teen die veldbrande, juis omdat hulle bang is hulle verloor alles.

Daar is diere en hul weiding, stalle, krale en vele meer wat moontlik tydens hierdie brande vernietig kan word.

Net soos ons almal werk vir ‘n inkomste, is dit die boere se inkomste wat in die gedrang is.

Of dit nou weiding is, vee, wild of volstruise, dit is die boer se bron van inkomste.

Die mensdom het ‘n geneigdheid tot selfsug, ons dink omdat dit nie in ons omgewing plaasvind nie, hoef dit ons nie te pla nie.

Sommige dink vir ‘n sekonde of twee daar en dan verdwyn gedagte weer, want dit het geen direkte invloed op ons daaglikse bestaan nie.

Terwyl daar ander is wat onophoudelik bid vir hierdie boere, hul familie en besittings wat gespaar moet bly.

Maar wat min mense weet, is indien die vee of weiding weg is, dit ‘n bose kringloop begin.

Die prys van bees- en skaapvleis of selfs van volstruisvleis, of dit nou vir die plaaslike of uitvoermark is, beinvloed wel ons sakke.

Suinig is ons maar wanneer dit by geld uithaal, selfs al kom dit by noodsaaklikhede.

Vleis is deel van ons Suid-Afrikaners se kultuur en ons hou ook daarvan om te kla.

Sodra die vleispryse die hoogte inskiet is ons vinnig op ons perdjie en beskuldig die ekonomie en regering van allerhande booshede.

Maar die feit van die saak is dat ons vinnig vergeet het van die nuusberig of die arme boere wat swaar gekry het tydens die veldbrande.

Veldbrande is en bly ‘n probleem omdat dit ‘n risiko vir die lewe, eiendom en die omgewing inhou.

Met verloop van tyd het ons meer en meer kwesbaar vir die risiko geword.

Dit is omdat die stedelike en buitestedelike menslike nedersettings geleidelik uitbrei en ons mense meer verstedelik, so verstaan al hoe minder van ons veldbrande.

So het die kans om slagoffers van vure te word toegeneem.

Net soos die wat op kleinhoewes woon ook maar probeer om veldbrande te voorkom, so is dit vir die boere belangrik om veldbrande te bestuur om hul omgewing te beskerm.

Die ekosisteme van sowat 70% van Suid-Afrika is aangepas by ‘n mindere of meerdere mate van ‘n brand.

Die Departement van Waterwese en Bosbou moet die beheer van veldbrande beide vir die doeleindes van die beskerming van die mense en hul bates, sowel as vir die beskerming van biodiversiteit bestuur.

Dié wat die kolom lees wonder seker teen hierdie tyd wat het dit met ons te doen wat die departement doen om brande te beheer en te bestuur.

Maar die feit dat ons in die dorp woon, vrywaar ons glad nie van brande nie, inteendeel, die meeste huise en besighede besit vandag brandalarms of rookverklikkers (smoke detectors) om ons betyds te waarsku.

In hierdie week se uitgawe is daar ook die storie van die lapa se grasdak wat afgebrand het, vermoedelik deur rondlopers wat die gras agter die huis aan die brand gesteek het.

Om nie eers te noem nie van die ouer husie wat al in Springs afgebrand het as gevolg van foutiewe bedrading.

Maar wat ookal die redes hoe ‘n brand ontstaan het, die belangrikste is om te weet dat ons empatie moet hê met die boere wat besig is om soveel skade te probeer verhoed.

Dink maar aan die gesinne wat hul geliefdes verloor het tydens die veldbrande, aan die vele boere wat weiding en selfs van hul diere verloor het.

Daar is heelwat finansiële komplikasies wat met veldbrande gepaardgaan, soos dalk ‘n nuwe begin vir die vrou en kinders wat wees gelaat is na die dood van hul geliefde of ‘n boer wat net nie finasieël sterk genoeg is om weer van onder af te begin nie.

Indien die vleispryse die hoogte inskiet, dink dan aan hierdie boere wat verbete geveg het om hul besittings en lewende hawe te beskerm.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button