LettersOpinion

Het my les geleer

Hierdie brief is ingestuur deur 'n barmhartige Samaritaan wat volgende keer twee keer sal dink voor sy iemand help.

Ek het onlangs getrek en dit goed gedink om ‘n man en vrou van Geduld wat vreeslik swaar kry te vra om my te help met die trek.

Ek het natuurlik gedink dis die regte ding om te doen. Ek het hulle van kos en geld voorsien, en ook vir hulle ‘n rusbank, klerekas en onder andere klere gegee. Hulle het opreg en eerlik gelyk.

Ek moes vinnig uit om krag te koop. Toe ek terug kom by die huis was hulle vir ‘n uur of wat weg om, het ek na die tyd gehoor, blykbaar draad te kry om iets daarmee te herstel. Min wetende het hulle my besteel.

Groot was die skok toe ek daardie middag van my bokse begin uitpak en vind dat van my waardevolle besittings net voete gekry het. Ek kon dit nie glo nie.

Na alles wat ek vir hierdie mense gedoen het. Ek het nie veel nie en ek het hard en eerlik gewerk daarvoor. Maar ek wil net hê hulle moet weet dat die selfoon wat hulle gevat het ‘n geskenk vir my seun was wat ‘n diabeet is.

Ek het ‘n hele paar maande gespaar om dit vir sy verjaardag te kon koop. Die Verso E-reader was ‘n geskenk van my vriend en die inhoud daarop kan nie vervang word nie. Die res van my besittings wat weg is moet ek nou maar vervang soos ek kan.

Ek verstaan nou hoekom hulle nie die volgende dag teruggekom het nie.

Ek is ‘n enkelouer met twee seuns op skool en al druk die lewe jou soms in ‘n hoek byt jy nie die hand wat jou voed nie. Geen wonder hulle is waar hulle is nie. In ‘n buitekamer sonder krag en geen toilet fasiliteite nie.

Nou kry ek hulle nie meer jammer nie. Mens kom nêrens sonder eerlikheid nie en dit kos niks.

My ma is ‘n pensionaris en het ook so twee maande gelede ‘n man op straat gehelp met klere en kos. Hy het blykbaar alles verloor toe sy vrou hom los vir ‘n ander man – dit was sy storie.

Hy het my ma en my suster van hulle selfone besteel sonder om twee keer te dink en dit na sy hom verskeie kere so mooi gehelp het.

Nou wonder ek net, wie help ‘n ou nou eintlik?

Van een ding is ek seker, my goedheid het saam met my besittings by my voordeur uitgeloop.

Klaar gedaan

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button