Hugenote skoolhoofde besin oor jare se toewyding

Beide die Hoërskool Hugenote se hoof en onderhoof tree aan die einde van kwartaal vier af.

“Ons bloed sal altyd maroen bly.”

Hierdie is ‘n stelling waaroor twee onderwysers eenparig saamgestem het terwyl hulle hul lang en suksesvolle loopbane in die onderwys sal onthou.

Met ‘n gekombineerde tydperk van 77 jaar in die onderwys, sal die Hoërskool Hugenote aan die einde van hierdie kwartaal twee ervare en toegewyde hoofde aan aftrede afstaan.

Die skool sal afskeid neem van hulle hoof, Frans Styger en onderhoof, Tilla van Niekerk.

Dit is ‘n bittersoet mylpaal vir die hoofde in maroen. Alhoewel hulle opgewonde is oor die toekoms, is dit duidelik dat hulle die skool en sy kinders gaan mis.


LEES OOK: CoE commits to transparency during SIU investigation


Frans (61), wat sedert 2008 Hoërskool Hugenote se skoolhoof is, sal Desember met 37 jaar se toewyding op sy kerfstok die onderwys vaarwel roep.

Frans het sy onderwysloopbaan in 1987 by die Hoër Hugenote Seunsskool afgeskop waar hy geografie en geskiedenis aangebied het.

Ses jaar later het hy bevordering gekry as ‘n departementshoof by die Hoërskool Brandwag in Benoni.

In 1997 keer hy weer terug gekeer na die Hoërskool Hugenote as adjunkhoof vir ‘n verdere 12 jaar. In 2008 word Styger as die amptelike tweede hoof van dié skool aangestel.

Sedertdien hy het al diep spore daar getrap en bygedra tot groot ontwikkeling van die skool. Tydens sy jare as skoolhoof is daar onder meer ‘n gimnasium, swembad, snoepie en die Astro-baan gebou.


LEES OOK: Felicitas swimmer to represent Ekurhuleni at Soncini Invitation Gala


Tilla Van Niekerk het vir sewe jaar as onderhoof by die Hoërskool Hugenote gedien.

Frans erken dat onderwys nie sy eerste keuse was nie maar dat hy aanvanklik ‘n predikant wou word.

Onderwys het egter die voortou geneem en toe hy weer sien het hy sy onderwys graad, ‘n diploma en HOD aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Later het hy ook sy VDO aan die destydse OKVO Kollege voltooi.

“Hoewel ek nie noodwendig daarvan gedroom het om skoolhoof te word nie, is ek iemand wat alles voluit aanpak en my alles gee,” sê Frans.

Volgens hom het Hugenote aan hom gegroei en hy erken die hoogtepunt van sy loopbaan was die matrieks se 100% slaagsyfer elke jaar. Hy sê ook hoewel hy met ‘n swaar hart aftree, hy tog daarna uitsien.

“Ek gaan volgende jaar vir ‘n paar maande as jaggids optree op een van my vriende se plaas en ek is van plan om ‘n bietjie oefening in te kry en natuurlik sien ek daarna uit om lekker vis te vang,” vertel hy opgewonde.

Tilla (61), onderhoof van die skool, het in 2017 by Hugenote aangesluit en vanaf dag een haarself goed van haar taak gekwyt.

Wanneer sy Desember die tuig neerlê sal sy 40 jaar in die onderwys vaarwel roep.

Volgens Tilla was onderwys ook nie haar eerste keuse nie want sy wou graag regte studeer. Omdat sy te laat was vir die keuringsproses, was onderwys die alternatiewe opsie.

Sy het toe onderwys aan die destydse NKP Onderwys Kollege van Pretoria studeer. In 1985 het sy haar onderwysloopbaan by die Hoër Tegniese Skool afgeskop waar sy wiskunde aangebied het.

Sy is sewe jaar gelede hy Hugenote aangestel, nie net as onderhoof nie maar ook as wiskunde onderwyseres en sy bied sedertdien wiskunde as vak aan. Volgens haar gaan sy Hugenote se kultuur en die omgee vir mekaar mis.

“Die hoogtepunt in my onderwysloopbaan was beslis toe ek Hugenote toe geskuif het. Hier het ek ‘n ander kultuur leer ken as waaraan ek gewoond was,” sê sy.

Hoewel Tilla die skool gaan mis, sien sy baie daarna uit om af te tree.

“Vir eers beplan ek om die land plat te toer en vir ‘n rukkie vakansie te hou totdat ek goed uitgerus is.”

Exit mobile version