Toenemende aantal plaasdiere op Springs se paaie wek kommer

Motoriste word aangeraai om ten alle tye op hul hoede te wees vir plaasdiere.

Die teenwoordigheid van plaasdiere, veral boerbokke en selfs beeste word al hoe meer gereeld op die dorp se paaie opgemerk.

Die diere dwaal van hul weiding plekke af, met die gevolg dat hulle op besige paaie beland en groot risiko vir motoriste inhou.

Talle beeste is al in Springs Weststraat, Coatonlaan en meer gereeld in Nigelweg teëgekom. Die beeste wei bedags naby aan hierdie paaie of drink selfs water langs die pad.

Die boerbokke kom weer meer by die N17 hoofweg afritte voor. Dié rondloper diere is al vir jare lank ‘n probleem op die paaie en oor die afgelope paar jaar was daar talle motorongelukke wat deur hierdie diere veroorsaak is.

Die Advertiser het onlangs ook hieroor berig (Motorists at risk due to rise in stray cattle) waartydens Annecia le Roux, die DBV bestuurder haar kommer uitgespreek het.


Die skade wat deur ‘n bees aan hierdie motor aangerig is, is onherstelbaar.

Dít nadat twee motorongelukke in een week deur rondloper plaasdiere veroorsaak is.

Volgens Le Roux kan hierdie voorvalle nie net die dood van die diere veroorsaak nie, maar ook baie skade aan eiendom aanrig asook motorbestuurders se lewens in gevaar stel.

Die Springs DBV doen ’n dringende beroep op vee-eienaars om verantwoordelikheid vir hul diere te neem.

Volgens die Ekurhuleni-Oos GPF ondervoorsitter, Barend van Heerden is hierdie ongenooide plaasdiere al vir meer as ‘n dekade lank ‘n probleem wanneer dit by motoriste se veiligheid kom.

“Vele mense het al seergekry as gevolg van hierdie diere, maar tog besef niemand die erns van die saak nie,” sê hy.


LEES OOK: 300k more learners as budget cuts challenge education sector


In die verlede het Barend ‘n petisie opgestel rakende hierdie probleem en dit aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Polisie Departement oorhandig. Dit het egter geen noemenswaardige impak gehad nie.

“Die enigste oplossing hiervoor is dat die Stad van Ekurhuleni net hulle eie wette toepas. Daar mag nie sulke diere in ons residensiële gebiede wees nie.”

Barend se raad aan motoriste is om veral saans spoed te verminder.

Hy meen dat jy nooit voorbereid kan wees vir wat volgende voor jou in die pad gaan beland nie en daarom is dit raadsaam om stadiger te ry.

Kommentaar is van die Stad Ekurhuleni versoek, wat teen druktyd nog nie ontvang is nie.



LEES OOK: New chef serves up culinary delights at Carnival City’s pre-birthday celebration

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version