Varke, stank en stof het Casseldale inwoners keelvol

Victoriastraat se inwoners is desperaat vir ingryping rakende die varke wat op hulle agterstoep woon.

Die Jack D’Arrigo Park of ook bekend as Dirkie Meyer Park in Ermeloweg het inwoners raadop. Dié park bestaan al jare en is ook ‘n tuiste vir verskeie diere soos bokke en voëls.

In die laaste paar jaar het varke begin tel onder die diere wat in die park aangetref kan word. Hierdie park grens aan Casseldale se residensiële area en die inwoners al langs Victoriastraat staan hande in die hare oor die negatiewe impak wat Dirkie Meyer Park se varke op hulle het.

Die kamp waarin die varke bly is letterlik op hierdie inwoners se agterstoep; met net ‘n betonmuur tussen hulle.
‘n Muur, wat volgens hulle, deur die varke beskadig word.

Volgens Yvonne du Preez (51) wat al meer as twee dekades in haar huis woon, het sy nog nooit enige probleme ervaar totdat die varke verlede jaar in Junie daar aangekom het nie.

“Voordat die varke hier was, was daar gras maar nou is dit net ‘n stowwerige gemors hier agter ons,” vertel ‘n ontstelde Yvonne.

“Afgesien van die onaangename geluide, reuke en vlieë wat van die varke afkomstig is, is ons gatvol vir al die stof. Jy kan nie eers jou mond oopmaak buite die huis nie, dan eet jy net sand.”

Yvonne sê dit voel saans asof sy in ‘n perdestal kos maak soos wat die vlieë haar kombuis toesak. Volgens haar was dit nooit voorheen ‘n probleem nie.

Yvonne se buurvrou, Lelanie Calitz (38) meen dat sy en haar man noodgewonge hulle huis sal moet verkoop indien daar nie gou ‘n oplossing vir hierdie probleem is nie.

“Ek het nie huis op ‘n plot of ‘n plaas gekoop nie, maar in ‘n residensiële gebied. ’n Mens kan nie so bly nie; my hele huis ly hier onder. Behalwe vir die aaklige stank wat ek daagliks moet verduur, moet ek die hele dag stof afvee,” sê Lelanie.

“Ek kan nie eers my tandeborsel gebruik nie. As ek sê alles is vol stof – dan bedoel ek alles.”

Daar is ook ‘n swembad agter in Lelanie se erf wat onbruikbaar is weens die massas stof en sand wat vanaf die park oorwaai.

Na bewering moet hulle elke paar weke die swembad leeg tap en skoon maak, wat die Calitz gesin baie geld uit die sak jaag.

“Toe ons die huis destyds gekoop het, het ek geweet hier is ‘n veld agter ons maar as ek geweet het dat dit later in ‘n vuil varkplaas gaan verander sou ek nooit hier gekoop het nie,” sê Lelanie

Die omgekrapte inwoners van Victoriastraat het vroeër vanjaar ‘n petisie opgestel en dit na die Department van Gesondheid geneem. Na bewering het daar niks van gekom nie.


LEES OOK: October is Breast Cancer Awareness Month: Tips to do breast self-checks


Die ideale uitkoms wat hierdie inwoners wil hê is dat die varke weg van die huise af geskuif sal word en dat hierdie stuk grond met gruis bedek sal word of dat daar weer gras geplant word om die stofwolke te stuit.

Die D’Arrigo familie is gekontak om kommentaar aangaande hierdie probleem. Carmela D’Arrigo het bevestig dat hulle besig is om die varke te laat verwyder.

“Ons het die klagtes van die inwoners gehoor en oor die laaste drie maande het ons die aantal varke geweldig verminder. Ons het reeds sowat 1 000 varke verwyder. Ons vra dat die inwoners geduldig sal wees, ons doen wat ons kan.

“Die stof is maar ‘n probleem terwyl ons wag vir die reën om te kom. Sodra die reën kom, sal die stof hopelik gaan lê,” het sy gesê.




LEES OOK: From dreamer to performer: Youngster shines in Olivia Twist musical

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version