Plaaslike kunstenaar floreer op die verhoog

“Ek kan met trots sê dat ek my beste jonger dae beleef het toe ek ‘n Oos-Rander was.”

Om ‘n sukses in die musiekbedryf te maak vat meer as net ‘n goeie stem; daarmee gaan ‘n verhoog persoonlikheid wat die lewenslustige Henri Alant verseker nie ‘n tekort aan het nie.

Henri het nie veel bekendstelling nodig nie en is gereeld agter sy klanktoerusting, of met ’n mikrofoon in die hand, op die verhoog te sien.

Hierdie 41-jarige kunstenaar bieg dat hy heelwat jonger voel as wat hy eintlik is. Vir jare lank was Petersfield sy huis maar deesdae woon hy is Centurion.

Hy het sy skoolloopbaan by die Laerskool Christiaan Beyers afgeskop en later aan die Hoërskool Hugenote matrikuleer.

“Ek kan met trots sê dat ek my beste jonger dae beleef het toe ek ‘n Oos-Rander was,” vertel hy trots.

Dié gewilde kunstenaar het sy roem in 2010 verwerf nadat hy sy eerste album vrygestel het. Sedertdien het hy talle enkelsnitte vrygestel en beoog om binne die volgende jaar ‘n digitale album uit te bring.

Volgens hom ondersteun sy aanhangers sy musiek op verskeie platforms en hy lê klem op sy dankbaarheid teenoor dié getroue aanhangers.

Beide Henri se ouers kan sing en daarom het dié gogga hom op ‘n jong ouderdom gebyt. Hy onthou hoe hy as 10-jarige seuntjie met ‘n mikrofoon in sy hand gestaan het, en geweet het dit iets is wat hy vir die res van sy lewe wil doen.

“Ek glo wat jy spreek oor jou lewe sal so wees maar ons moet ook realisties wees.”

Henri skryf al jare lank sy eie musiek en vertel dat hy ook al saam met die kunstenaar, Rudi Claase gewerk het.


LEES OOK: Local artist creates stunning backdrop for Springs SPCA adoption photos


Hy erken mense en hulle stories is sy inspirasie.

“Ek geniet dit om stories uit te beeld deur ‘n pen en papier te gebruik, en so vorm die lirieke asook my musiek ook deel van ‘n verhaal,” vertel hy.

Op die vraag oor Henri se gunsteling deel van sy beroep het hy geantwoord bloot net die mense wat hy teëkom.

“Ek geniet die toer na verskillende dorpies en die manier hoe ek deur nuwe mense ontvang word. Dit is vir my lekker om Suid-Afrika te sien en as ek mag sê, ons het darem maar ‘n baie mooi land!”

Wanneer hy nie met ‘n mikrofoon in die hand op ‘n verhoog is nie, sal hy in ‘n gimnasium gevind word of miskien in die tuin. Hy erken dat hy eintlik groenvingers het.


Henri Alant se treffers kom vanuit sy eie pen.

Hy meen ook dat hy nie ‘n daaglikse vaste roetine het nie, elke dag lyk vir hom anders en dit is wat hy so geniet.

“Ek kan nie een van my liedjies uitsonder nie, ek is regtig lief vir elke liedjie wat ek het maar as ek moet kies sal dit tussen die treffers Madelein, Rose of my duet saam met Jennifer Zamudio, Daar is ‘n rede, wees.

Een van sy se groot drome was nog altyd om saam met Patricia Lewis te werk en volgens hom gaan dié twee dalk binnekort ‘n klomp aanhangers verras.

Hy gaan ook voor die einde van die jaar ‘n gospel lied uitbring wat moontlik ‘n ander kant van hom vir sy aanhangers gaan wys.

“Ek wil nie noodwendig in die gospel rigting in beweeg nie en ek gaan verseker terug na my plaaslike sokkie-kant toe, maar dis tyd om iets te deel wat ek voel ek moet deel.”

Henri sluit af met: “My raad aan jong opkomende kunstenaars is om hard te werk en realisties te wees oor wat jy wil bereik. Wees ook dankbaar vir elke opregte kritiek wat jy ontvang, want dit vorm jou en maak jou sterker.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version