Blink toekoms wag op jong rugbyspeler

Zander Lourens beoog om eendag vir die Springbokke uit te draf.

Op die rugbyveld is spoed en krag dikwels belangrik vir enige speler en Zander Lourens het nie ‘n tekort aan dié vaardighede wanneer hy op die veld uitdraf nie.

Hierdie 19-jarige rugbyspeler se vaardighede het hom onlangs sy plek in die Blou Bulle o19-span verseker.

Zander het op 31 Augustus sy eerste wedstryd vir dié span gespeel en hy floreer tans in die nommer ses trui maar is ook gemaklik om as hakker of flank uit te draf.

“Om vir die Bulle te speel is ‘n gevoel wat ek nie sommer in woorde kan beskryf nie. Dit is jare se harde werk wat uiteindelik afbetaal en ook ‘n stap nader aan die einddoel,” vertel hy.

Hulle volg tans ‘n streng oefenprogram waar hulle vier dae ‘n week oefen en elke Saterdag ‘n wedstryd speel.

Sommige dae oefen die span vanaf 07:00 tot 12:00 en ander dae begin hulle reeds om 06:00 en eindig eers 17:00 die middag.


Zander Lourens wou nog altyd ‘n professionele rugbyspeler wees.

“Dit is ‘n baie groot voorreg om vir die span te speel en dit maak baie deure oop vir my rugbydrome. Dit is vir my lekker om elke dag iets te kan doen wat ek werklikwaar geniet.”

Zander sê dit is te danke aan sy pa dat hy ook ‘n liefde vir rugby ontwikkel het. Sy pa het ook deur die jare rugby gespeel en volgens Zander het hy eintlik langs die rugbyveld grootgeword.

“Ek moet sê my liefde vir die sport het in ‘n passie verander toe ek op vyf jaar my eerste wedstryd gespeel het. Ek het dit so geniet dat ek nog nooit opgehou het nie,” het hy vertel.

Dié rugbyster het in Strubenvale grootgeword en sy laerskool loopbaan by die Laerskool Jan van Riebeeck voltooi.

Hy het egter sy hoërskool loopbaan by die Hoërskool Garsfontein in Pretoria voortgesit met die oog om sy rugby te bevorder.

Hy het regdeur sy skoolloopbaan A-span gespeel en was al menige male kaptein van verskeie spanne. Hy was al gekies vir talle Valke en Cravenweek spanne waar hy keer op keer sy talent op die veld bewys het.


LEES OOK: Ginger Golfers tee off at Pollak Park despite windy conditions


Hoewel Zander vanjaar besig was met ‘n kursus wat hy deur die Universiteit van Pretoria gedoen het, moes hy vir eers sy studies opsy skuif omdat die rugby te veel van sy tyd in beslag neem. Volgens hom is dit die ondersteuning van sy ouers en sy meisie, wat hom gebring het waar hy vandag is.

“My ouers het my altyd oefening toe gery en die toerusting verskaf wat ek benodig. Hulle het so baie opgeoffer om my te kry waar ek vandag is.”

Hoewel Zander nou vir die Bulle speel, erken hy dat hy nie altyd ‘n Blou Bul ondersteuner was nie. Hy was aanvanklik ‘n groot Stormers aanhanger maar sy liefde vir die Bulle het oor die jare op hom gegroei.

Sy doelwit is om ‘n senior kontrak by die Bulle te kry of selfs om internasionaal rugby te speel. Maar volgens hom bly sy grootste droom tog om eendag die Springbokke in die groen en goud te verteenwoordig.

“Ek hoop om vir ander te wys dat dit nie saak maak vanwaar jy kom nie. As jy ‘n doelwit stel en jy sit die harde werk in om dit te bereik, is enige iets moontlik.”



LEES OOK: SPAR named sponsor of the year at prestigious Momentum gsport Awards

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version