Oud-rugbyspeler se wortels lê diep in Springs

Jaco het in 2012 sy debuut vir die Springbokke gemaak.

Baie sal vir Jaco Taute onthou as die veelsydige rugbyspeler wat enige span uit die moeilikheid kon red, maar vandag is hy gemaklik in die korporatiewe wêreld as finansiële bestuurder vir ‘n farmaseutiese maatskappy.

Dié talentvolle 33-jarige het in die verlede al vir spanne soos die Stormers, Leeus, Munster en die Leicester Tigers gespeel waar hy ‘n reuse impak gemaak het.

Hy het ook in 2012 sy debut as Springbokspeler gemaak. Jaco het sy grootword jare in Dunnottar deurgebring en sy laerskool loopbaan by die Laerskool Selectionpark voltooi.

Hy het sy hoërskool loopbaan by die Hoërskool Hugenote begin maar later na Hoërskool Monument geskuif en dit daar voltooi.

Hoewel Jaco tans in Pretoria gevestig is, het hy steeds familielede wat in Springs woon en erken dat sy wortels hier baie diep is. Hy erken sy belangstelling in rugby was soos liefde op eerste oog opslag.

“Die eerste keer toe my oë ‘n rugby bal sien was die koeël reeds deur die kerk. Ek onthou nog toe ek as klein seuntjie die Currie Beker saam my pa en broer gekyk het. Die sport het my dadelik aangegryp,” het hy vertel.


Jaco Taute in aksie vir die Leicester Tigers.

Hy het as vyfjarige seuntjie reeds elke middag bal geskop en selfs rugbywedstryde teen homself in die agtertuin gespeel.

Jaco se rugbyloopbaan het egter na skool behoorlik vlamgevat toe hy ‘n drie jaar kontrak by die Leeus geteken het. Daarna het die Stormers hom gewerf vir ‘n verdure vier jaar.

Nadat sy kontrak in 2016 geeïndig het, het Jaco sy vlerke wyer gesprei en by die Ierse span, Munster aangesluit vir nog drie jaar.

Vir die laaste paar jaar van sy rugbyloopbaan het Jaco vir die Leicester Tigers in Engeland gespeel. In 2012 het hy vir die eerste keer vir die Springbokke in die groen en goud uitgedraf.

“Dit was my groot droom wat waar geword het. Dit is eintlik moeilik om dit alles in woorde te sit want al ‘n mens se harde werk en opofferings het na daardie punt gelei en dit was so lekker om deel te wees van iets baie groter as jouself.”

In daardie jare was Heineke Meyer die Springbok afrigter en Jaco erken hy het baie rugbykennis en ervaring van goeie gehalte by hom geleer.


Jaco Taute het vier jaar vir die Stormers gespeel.

Oor die jare het Jaco ‘n opwindende vooruitsig op heelagter gemaak, hoewel hy die vermoë getoon het om ook in die middelveld te speel. Op skool het hy losskakel gespeel, na skool heelagter en uiteindelik het hy in een van die senter posisies geëindig.

Na ‘n ernstige kniebesering, wat hy tydens sy laaste wedstryd vir die Leicester Tigers opgedoen het, moes hy noodgedwonge die besluit neem om finaal uit sy rugbyloopbaan te tree.

“Dit was nie vir my ‘n maklike proses om deur te gaan nie , maar ek het gevoel rugby het al so baie vir my gegee en daarom kon ek met ‘n dankbare hart aanbeweeg van die sport.”

Hoewel Jaco al van kleins af oor ‘n rugbyloopbaan gedroom het, is hy nie een dag spyt oor die pad wat hy gestap het nie. Jaco is soos die spreekwoordelike ‘man van vele talente’.

Hy is nie net ‘n afgetrede professionele rugbyspeler nie maar het ook verlede jaar vlak een as geoktrooieerde finansiële ontleder geslaag en is tans besig met vlak twee.

Sy nagraadse studies en deeltydse werk as finansiële bestuurder hou sy dagboek vol en hoewel hy erken dat hy nie noodwendig die spel self mis nie, mis hy die vriende, kameraadskap en kultuur wat met rugby gepaard gaan.



LEES OOK: Abacus skills earn girl (7) gold at champs

LEES OOK: Enderun College learners enjoy a fun-filled maths learning experience

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version