Local newsNews

Springs-monster se seun praat dekade na ‘Huis van gruwels’

Herman kyk vorentoe en laat nie toe dat sy verlede nie sy toekoms bepaal nie.

Vanjaar is dit al ‘n dekade sedert die skokkende gebeure in die groot dubbelverdiepinghuis in Springs-Sentraal op die lappe gekom het.

In die sogenaamde ‘Huis van gruwels’ was vyf kinders deur hulle ouers verwaarloos en wreed mishandel.

Wat in dié huis plaas gevind het, het nie net die gemeenskap geruk nie maar die hele land in verbystering gelaat.

Die voorval het destyds selfs internasionale nuus gehaal en so is die pa van die verwaarloosde kinders as die ‘Springs-Monster’ herdoop.

Die Advertiser het onlangs by die dapper Herman van Moerkerken ingeloer wie se heldedaad waarskynlik destyds sy broer en susters se lewens gered het.

Herman was toe net ‘n 11-jarige seun wat een van die slagoffers van erge mishandeling en marteling was.


LEES OOK: Bright future ahead for models


Sy pa, wat tans tronkstraf uitdien, was nie net ‘n humeurige man nie, maar ook ‘n beheervraat. Sy kinders moes hulle dae agter slot en grendel deurbring omdat die wêreld kwansuis vol monsters was, teen wie hy hulle wou beskerm.

Sy pa het as ‘n tweedehandse motorhandelaar gewerk en selfs van sy kantoor af die kinders met ‘n valkoog dopgehou.

Altesaam 37 kringtelevisiekameras was in die huis geïnstalleer waarop hy die kinders dag en nag dopgehou het.

Herman se ma is ook beveel om daagliks saam met sy pa werk toe te gaan, wat daartoe gelei het dat die kinders bedags alleen by die huis was.

Saans wanneer hulle by die huis kom het hy oor en oor na die dag se beeldmateriaal gekyk net om seker te maak dat hy nie ‘n strafbare oortreding gemis het nie.

Herman en sy ouer sussie, toe sestien jaar oud, was die grootste slagoffers van hulle pa se gewelddadige optredes. Sy sussie is aan haar hare by die trappe afgesleep en met mening in die gesig geskop.


Herman van Moerkerken en sy aanneem-ma, Sanet.

Soms het hy die kinders vasgebind en geslaan, en hulle dan oornag vasgebind gehou totdat hulle glo ’n ‘les’ geleer het.

Mettertyd was sy straf volgens hom nie meer voldoende nie en dit het egter meer gewelddadig geraak.

Sogenaamde watermarteling het gou deel van sy martelmetodes geraak. Hy sou sy kinders op hulle rue in die bad vaspen met ‘n nat lap bo-oor hulle monde en dan water oor hulle gesigte gooi tot die punt waar hulle byna versmoor.

Later is daar elektriese skokgolwe deur hul brose liggame gestuur, en hulle is selfs met pvc-pype en kieries geslaan.

Die keerpunt van dié gruwel dade het gekom toe die 11-jarige Herman in Mei 2014 met sy gekneusde lyfie bo-oor die muur gespring het en by die bure aangeklop het vir hulp.

Sy pa het hom glo gou weer daar gaan haal en met die dood gedreig. Daardie aand het Herman sy laaste en byna ergste mishandeling van sy pa ervaar.


LEES OOK: Women’s baseball is on the up


Hy was vasgebind en die vuishoue het geval totdat sy se oë later toegestel was. Die bure het egter die Springs Polisiestasie geskakel en hul bekommernis uitgespreek oor die veiligheid van die seun wat om hulp gevra het.

Die volgende dag het 17 polisiebeamptes en drie maatskaplike werkers op die groot dubbelverdiepinghuis toegeslaan. Die stand van die huis het die polisie en maatskaplike werkers diep gewalg.

Vier kinders is daardie dag uit die huis van gruwels verwyder maar in daardie stadium was Herman nêrens te vinde nie.

Sy pa het hom ten tyde van die soektog in die dak weggesteek en hy is sowat ‘n week later deur die polisie in die Vrystaat opgespoor nadat sy pa hom by ‘n familielid gaan versteek het.

Herman se pa is in Augustus 2018 aan verkragting, poging tot moord, kindermishandeling en dwelmbesit skuldig bevind en is tot 35 jaar tronkstraf gevonnis.

Sy vrou wat glo aan mishandelde-vrou-sindroom ly, is skuldigbevind aan kinderverwaarlosing en regsverydeling en sy het ‘n opgeskorte vonnis gekry.


LEES OOK: Swim Club shines at championship


Die ouerpaar het glo ten tyde van die verhoor geskei. Hulle name mag egter nie bekend gemaak word nie om die identiteit van hul minderjarige kinders te beskerm.

Vandag is hierdie brawe seun wat destyds waarskynlik sy sibbe se lewens gered het, een en twintig jaar oud en word geken as Herman van Moerkerken.

Herman se braafheid het destyds ‘n einde aan die jarelange marteling gebring en vandag is hy steeds woonagtig in Springs.

Sy aanneem-ma, Sanet (56), was die maatskaplike werker wat destyds sy en sy sibbe se saak hanteer het, en het hom in April 2018 as haar eie aangeneem.

Sy aanneemouers het hom aangemoedig om sy skoolloopbaan te hervat.

“Omdat ek eers op 11-jarige ouderdom met skool begin het was ek in ‘n skool wat my kon help om bietjie te leer lees en skryf,” het Herman vertel.

“Ek het ook baie vaardighede met my hande geleer en het houtwerk, kuns en kook geniet,” vertel hy.

Herman dra die letsels van jare lange mishandeling aan die hand van sy eie pa en het na sy beproewing sielkundige hulp ontvang omdat hy later in sy lewe aan post traumatise stresversteuring gely het.

Hy erken hy het al gewonder of hy destyds die regte besluit geneem het om hulp te soek want dan was hy en sy sibbes nog bymekaar, maar hy besef dat die mishandeling nooit sou ophou nie en dat sy jonger boetie en sussies later daaronder sou lei.

Herman het ongelukkig nie meer baie kontak met sy broer en susters nie maar weet steeds wat in hulle lewens aangaan omdat sy aanneem-ma kontak met die ander versorgers behou.

Soms kry hy nog nagmerries oor daardie swaarkry jare.

“Daar was ‘n tyd wat ek baie met nagmerries gesukkel het. Ek sal nou nog soms ‘n nagmerrie kry maar dit gebeur gelukkig nie meer gereeld nie,” vertel hy.

Vandag, tien jaar nadat hy en sy sibbes van die huis van gruwels bevry is, kyk Herman vorentoe en sê dat sy verlede nie sy toekoms bepaal nie.

Die liefdevolle ouerpaar wat hom aangeneem het, het ‘n groot bydrae tot sy genesing gelewer.

“My ouers het my geleer dat ek verantwoordelike besluite moet neem en dat ek moet kies of ek vorentoe gaan kyk of myself jammer gaan kry oor wat met my gebeur het.”

Die grootste genesing het hy in sy geloof gevind en is sedertdien in die kerk aangeneem.

“Ek weet dat die Here ‘n doel met my lewe gehad het self voordat ek Hom geken het en ek weet dat Hy daagliks ‘n pad met my stap.”

Related Articles

Back to top button