Local newsNews

Blink toekoms wag op jong bokser

Jacobus droom daarvan om eendag professioneel te boks.

Alhoewel hy eers in Januarie vir die eerste keer in die bokskryt geklim het, is die jonge Jacobus Jonker se trofeekas reeds propvol goud- en silverware.

Jacobus se selfdissipline en uithouvermoë wanneer hy homself in die bokskryt bevind het gesorg dat hy vanjaar met elke geveg as oorwinnaar uit die kryt geklim het.

Die 16-jarige bokser van Brakpan-sentraal oefen tans drie maal per week by die Bert Collins Boksklub om sy vaardighede te slyp.

Hy het vroeër vanjaar by dié klub aangesluit nadat hy videos op sy selfoon gekyk het en boks glo baie aanloklik vir hom gelyk het.

Jacobus vertel dat hy vir jare die slagoffer van boelie was, maar dat hy vandag nie bang is om homself te verdedig wanneer dit nodig is nie.

“Tydens ‘n boksgeveg lyk dit dalk of ek gaan huil maar dit is die adrenalien en woede om die geveg te wen, wat opbou,” het hy vertel.

Wanneer Jacobus in die bokskryt is, is hy glo nie bang om seer te kry nie en dat opgee, volgens hom, nooit ‘n opsie is nie.

“Ek sal nooit opgee nie en as ek ooit moet opgee tydens ‘n geveg sal my afrigter my doodmaak,” vertel hy laggend.

Volgens Jacobus het boks hom baie goeie sportmanskap geleer en dat hy elke oefening ten volle geniet.

“Ek het geleer om aan te hou en uit te hou. Met die eerste ronde in die kryt lees ek gewoonlik my opponent en met die tweede en derde rondes kom ek terug en gee alles wat ek het.”

Jacobus se grootste ondersteuners is sy familie en afrigter. Hy beoog om eendag professioneel te boks en sê dat hy ander wil inspireer om nie toe te laat dat ‘n boelie hulle onderkry nie.



LEES OOK: Veterans tour restored memorial sites in Springs

LEES OOK: Dekade se toewyding vir GPF voorsitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button