Local newsNews

Dekade se toewyding vir GPF voorsitter

Johan is al 10 jaar by Strubenvale se GPF betrokke.

Die 54-jarige Johan van Staden skroom nie om sy deel vir die gemeenskap te doen nie en is al vir ‘n dekade lank deel van die GPF.

Johan en sy gesin woon al 31 jaar in Strubenvale en hy het jare gelede besluit om by die GPF aan te sluit nadat daar by een van sy bure ‘n inbraak was.

Dit is nou 10 jaar later en volgens hom is hy nie een dag spyt oor die besluit nie. Hy is vir twee jaar lank al die voorsitter van Strubenvale se GPF.

“Wanneer jy die voorsitter is, is jou tyd nie meer net jou eie nie. Die gemeenskap het baie aandag nodig veral as daar misdaad gepleeg word,” het hy vertel.


LEES OOK: Booyse (Vernon Koekemoer) will be missed


As voorsitter moet Johan die omgewing soos die palm van sy hand ken. Indien daar ‘n noodgeval is, weet Johan onmiddellik waar die besigheid, huis, woonstel of plot geleë is.

Hy erken dat hy dit geniet om sy medemens te help en sodoende die hele gemeenskap veilig te hou.

Wanneer Johan nie die inwoners van Strubenvale se held is nie, is hy bedags ‘n verkoopsman wat gedurig tyd op die pad deurbring.

Hy is al vir 31 jaar met Magda (52) getroud. Magda is ook by die GPF betrokke en dien vir die afgelope agt jaar op die bestuur.

Tans bestaan Strubenvale se GPF uit 374 lede, maar volgens Johan kan daar nooit genoeg lede wees nie.


LEES OOK: Springsites brave icy waters for a good cause


“Ek sal mense aanraai om by ons aan te sluit. Hoe meer mense deel is, hoe beter kan ons die buurt veilig hou.”

Johan sê Strubenvale se misdaad lyk nie op die oomblik sleg nie maar hy lê klem daarop dat inwoners steeds paraat en op hulle hoede moet wees omdat misdadigers volgens hom, nooit slaap nie.

Hy raai inwoners aan om enige iets wat verdag lyk, onmiddellik aan te meld. Hy meen dat inwoners ten alle tye oplettend moet wees, eerder as om iemand die voordeel van twyfel te gee.

“Wanneer daar ‘n inbraak by jou huis is, moet jy eerstens seker maak dat jy en jou gesin veilig is. Kontak dan die polisie of vir ons sonder om jou gesin in gevaar te stel, en probeer ten alle tye kalm bly. Moet ook nie braaf probeer wees nie – jou lewe is baie meer werd as besittings.”

Related Articles

Back to top button