Local newsNews

Lynette deel haar inspirerende reis met kanker

Die Advertiser het saam met die inspirerende vrou gesels oor die moeilik pad wat sy gestap het.

Met die oog op Vrouemaand gaan die Springs Advertiser vir die res van die maand fokus op vroue wat inspireer.

Lynette Cilliers (55) wat in Springs gebore is en nou in Brakpan woon, inspireer daagliks baie vroue nadat sy haar stryd teen kanker oorwin het.

Nadat Lynette in 2019 met indringende lobulêre karsinoom borskanker gediagnoseer is, het haar hele lewe verander.

Sy is nie net vandag ‘n bemarkingsbestuurder in Springs se korporatiewe wêreld nie, maar ook die eienaar van die gewilde Faith Over Fear liefdadigheidsorganisasie wat vroue regoor die land bemoedig.

Sy het ook verlede jaar as die algehele wenner en die ‘most compassionate’ kategorie wenner van East Rand Women in Business Network weg gestap.

Vanjaar is sy ook een van die mentors wat die Mej Springs finaliste leiding bied en raad gee. Lynette is lewenslustig en haar positiwiteit aansteeklik.

Die Advertiser het met die inspirerende vrou gesels oor die moeilike pad wat sy moes stap en hoe sy as getroude vrou en ma van een, al die balle in die lug hou.


Lynette dien as mentor by vanjaar se Mej Springs skoonheidskompetisie.

• Wat het jou staande gehou tydens jou stryd met kanker?
In daardie moeilike tyd was my geloof, gesin, familie, vriende en my kollegas my steunpilare. Ek het geweet dat te midde van my uitdagings en onsekerheid dat dit steeds geleentheid vir my is om te groei. Dit was in die moeilikste tyd maar hier het ek my ware krag en veerkragtigheid ontdek.

• Wat het die kankerstryd jou geleer?
Jy moet bo jou situasie uitstyg. Om op die ouderdom van 50 met kanker gediagnoseer te word was nie maklik nie, dit was ‘n baie moeilike pad om te stap. Ek het besef dat ek soveel dapperder is as wat ek gedink het. Net omdat ek nie beheer het wat die lewe na my kant toe gooi nie, beteken nie dat ek nie kan beheer hoe ek dit hanteer nie. Ek besef elke litteken vertel ‘n storie en daarom gebruik ek my letsels om my heloof oor vrees storie te vertel.

• Watter impak het jou kankerdiagnose op jou geloof gehad?
Die kankerdiagnose het ‘n geweldige impak op my hele lewe gehad en my laat besef dat mens altyd geloof bo vrees moet hê. Ek het besef dat God maak ons nie siek nie, maar dat Hy van elke slegte situasie iets mooi laat ontstaan.

• Watter raad sal jy aan iemand gee wat met kanker gediagnoseer is?
Jy kan nie deur kanker gaan as jy nie Koning Jesus in jou lewe innooi nie. Daar sal moeilike en minder moeilike dae wees maar moenie dat die moeilike dae jou definieer nie. Sommige dae kan die pyn oorweldigend wees maar herinner jouself net om asem te haal en jou fokus op Jesus te hou. Vir elke vrou wat borskanker in die gesig staar wil ek sê dat jy sterk en baie dapper is, en dat kanker slegs ‘n hoofstuk in jou lewe is, nie die hele storie nie. Jy kan borskanker oorwin want jy is ‘n dogter van ‘n lewende God.

• Wat het jou inspireer om Faith Over Fear te begin?
Na my diagnose kon ek en my man nie glo wat gebeur nie, ons was in ongeloof oor die diagnose. Daardie aand het hy vir my gebid, die kanker bestraf en met olie gesalf. Na my operasie was die dokter se woorde aan my man: “It is a miracle, Lynette’s cancer went to sleep”. Ons het besluit dat ons wil terug gee vir Jesus en so het Faith Over Fear ontstaan.

• Waaroor gaan ‘n Faith Over Fear damesoggend?
Die damesoggende is ‘n ongelooflike lekker kuier saam met vroue. Yvette Powell van Lood Good Feel Better doen grimeer tegnieke. Elke dame ontvang ‘n geskenkpakkie en ek deel my kanker storie. Elke kanker storie is anders en ek deel myne soos ek dit beleef het. Dit is ‘n oggend van lag, huil en mekaar koester. Ons almal het seer en dit is waaroor hierdie oggende gaan.

• Wat is nog in die pyplyn vir Faith Over Fear?
My passie is om vroue te help en om kankerpasiënte weer waardig te laat voel. Soolank die Here my spaar, wil ek dames bewus maak van borskanker en hoe belangrik dit is om dit vroeg al op te spoor. Dit is net genade van God dat ek my storie met ander kan deel. Ek wil terug gee aan die gemeenskap en as ‘n kanker oorwinnaar glo ek dat Jesus my nog gebruik tot eer en verheerliking van Sy grote naam. Dit is vir my ongelooflik lekker om vir ander te gee en niks terug te verwag nie.

• Wat beteken dit vir jou om ‘n mentor vir Mej Springs finaliste te wees?
Dit is vir my ‘n reuse voorreg om ‘n mentor vir een van die ongelooflike finaliste te wees. Ek is Shevon Fouché se mentor. Sy is vroulik en sag, met ‘n sagte hart vir mense. Ek bid vir haar alles wat mooi en goed is uit God se Hand. Vir die ander finaliste wil ek sê dat jy goed genoeg en waardig is. Moet ook nie toelaat dat sosiale media jou insluk nie, jy is uniek en daar is niemand soos jy nie.

• Hoe balanseer jy werk, jou liefdadigheids organisasie en jou gesin?
Mens moet ‘n balans handhaaf en jou tyd verstandig gebruik. Ek waardeer my gesin en dit is vir my baie belangrik om hulle altyd eerste te stel. Ek kyk altyd vorentoe en probeer om ‘n doel gedrewe lewe te leef.

• Wat is die geheim om steeds positief te bly na al die klippe wat die lewe jou kant toe gooi?
Geloof, hoop en liefde, waarvan liefde die grootste is. Liefde vir God en almal om jou. Wees dapper en kyk vorentoe en nie agtertoe nie. Ek sê altyd: Jou verlede kan niks vir jou doen nie.



LEES OOK: Kgopotso wins emerging young leader award

LEES OOK: Severely burnt body discovered in cave near Bakerton Cemetery

Related Articles

Back to top button