Jong rugbyster maak gereed vir Italië

Ryan is onlangs vir die provinsiale rugbyspan gekies wat in Desember na Italië gaan toer.

Op die rugbyveld is spoed en krag dikwels belangrik vir enige speler en die jonge Ryan Hornsby het nie ‘n tekort aan dié vaardighede wanneer hy op die veld uitdraf nie.

Hierdie 12-jarige van Laerskool Selectionpark se vaardighede het hom onlangs sy plek in vanjaar se provinsiale rugbyspan verseker.

Ryan se liefde vir die spel het soos enige ander al van jonks af begin. Hy vertel hy het al op sesjarige ouderdom begin speel want die dag toe hy sy hande vir die eerste keer op die bal gelê het, was die koeël deur die kerk.

Ryan se rugbytalente het nog altyd sy plek in die A-span verseker.

Hy is tans ‘n baie sportiewe leerder aan die Laerskool Selection Park en is uit die aard van die saak ‘n sleutelspeler vir Parkies se eerste span. Dié rugbyster floreer tans in die nommer sewe trui waar hy sy as flank tot sy span bydra.

“Flank is vir my ‘n lekker posisie want ek geniet dit om die ander span se nommer 10 te pla tydens die skrums en dan die bal te steel,” vertel hy.

Ryan was verlede jaar vir die Wildehonde span gekies wat by die Rhino Week gaan speel het. Vanjaar was hy weer vir die Rhino Week span gekies en het uit die staanspoor ‘n goeie indruk gemaak.

Die Rhino week het tydens die Junievakansie by die Isak Steyl Stadion in Vanderbijlpark plaasgevind en hier is hy vir die provinsiale o13-rugbyspan gekies wat vanaf 3 tot 12 Desember na Italië gaan toer.

Ryan vertel hy was baie verbaas om vir dié span gekies te word maar is baie opgewonde.

“Ek sien baie daarna uit om te vlieg en om in ‘n ander land rugby te speel. Ek was nog nooit eers oorsee nie, nou kan ek sommer daar rugby speel,” vertel hy opgewonde.

Volgens Ryan is hy die enigste speler van Springs wat dié span behaal het en dat hy sy dorp met trots sal verteenwoordig.


Ryan Hornsby is Parkies se trotse nommer sewe speler.

“Dit is stresvol, maar ek weet ek kan dit doen,” voeg hy by.

Hy droom daarvan om eendag professioneel rugby te speel en moontlik in die Verenigde Rugbykampioenskap of in die wêreldbeker te speel.

Vir sy ma, Marita (38), was dit ‘n trotse oomblik toe haar seun vir die provinsiale rugbyspan gekies is.

“My hart het uit my bors geklim en trane het begin loop. Ek was oorweldig met trots,” het sy vertel.

Die toer dra natuurlik groot koste, en spelers is afhanklik van skenkers en borge om deel te neem. Enigeen wat Ryan finansieel wil bystaan, kan Marita by 061 442 2058 kontak.

Exit mobile version