Dawsyn dans sy droom al nader

Die volgende ronde van Dance Talent & Model Association sal in September plaasvind.

Dawsyn van Rensburg is nog jonk, maar sy trofeekas reeds propvol goud- en silwerware wat hy deur die jare met sy danstalent verwerf het.

Die 14-jarige danser van Geduld Uitbreiding oefen tans twee keer per week om sy vaardighede te slyp.

Dawsyn se talent het gesorg dat hy genooi was om in 2018 by die Dance World Cup in Spanje te dans.

In 2022 het hy by die SACOPA gedans asook by die Nasionale Talent Afrika danskompetisie waar hy gekies was om sy land in Amerika te verteenwoordig.

Die Van Rensburg gesin het egter besluit om dit van die hand te wys sodat hy die geleentheid kan aanpak wanneer hy ‘n bietjie ouer is.

Hy word deur Mariska Wolmarans van Dance Directions with Mariska afgerig. Hy ontvang lesse in hip-hop, jazz, jive, contemporary en bhangra.


Dawsyn in aksie by verlede jaar se Nasionale SACOPA in Rustenburg.

“Ek hou daarvan om mense te vermaak,” het hy gesê en voeg by dat hip-hop en contemporary verreweg sy gunsteling dans style is.

Dawsyn het die beoordelaars van die Dance Talent & Model Association se provinsiale kompetisie, wat op 13 en 14 Julie in Modderfontein plaasgevind het, beïndruk en het nie net na die volgende ronde deurgedring nie maar het ook sy provinsiale kleure verwerf.

“Ek was verbaas om deur te dring, veral omdat ek nie so baie tyd gehad het om in die vakansie te oefen nie.”
Sy ma Venessa kan nie uitgepraat raak oor hoe trots sy op haar kind is nie.

“Ek is ongelooflik trots op hom en bly dat hy gekies is om na die volgende ronde deur te dring. Hy het ‘n wonderlike talent en gawe gekry en ek is bly hy kan dit met mense deel,” voeg sy by.


Dawsyn pronk trots met sy sertifikate wat hy onlangs by die Dance Talent & Model Association ontvang het.

Die Dance Talent & Model Association se nasionale kompetisie sal in September plaasvind en hier beoog hy om weer die beoordelaars te beïndruk.

Dawsyn word as ‘n baie veelsydige kind beskryf. Hy is tans ‘n Graad Agt leerder aan die Hoërskool Hugenote vir die o14A-hokkiespan speel en was gekies vir die Easterns hokkiespan en die Rhino Week wat tydens die vakansie plaasgevind het.

Dawsyn blink ook uit in akademie en op kultuurgebied waar hy sang doen en deel van die toneelspan is.

Sy passie vir dans het al op ‘n ouderdom van vyf jaar begin toe hy saam met sy boetie begin dans het.

“Toe my ma jonger was het sy gedans en dit is natuurlik waar ons die talent vandaan kry. Om te dans het my baie selfvertroue geleer en dit help my ook selfs in my skoolwerk om dissipline en roetine toe te pas.”

Dawsyn beplan egter nie om sy liefde vir dans na skool op te gee nie en beoog om na skool vir ‘n paar jaar op die skepe as danser te werk.

Exit mobile version