Local newsNews

Nuwe parlementslid is trotse oud-inwoner

Henni dien tans op die Nasionale Raad van Provinsies.

“Ek sal daarna streef om ‘n oop, vrye en regverdige samelewing te bou waarin daar gelyke geleenthede tot voordeel van almal is.”

Dit is die woorde van die nuutverkose DA Parlementslid, Henni Britz. Die 57-jarige is onlangs as lid van die parlement in die Nasionale Raad van Provinsies gekies.

Henni het in Petersfield groot geword en sy laerskool loopbaan by die Laerskool Jan van Riebeeck voltooi.

Hy het in 1984 aan die Hoër Seunsskool Hugenote matrikuleer waar hy in akademie en in die kultuurgebied uitgeblink het.

Hier het hy aan kunswedstryde, debat, sang en redenaars deelgeneem en tot groot verbasing was hy nooit op hoër- of laerskool as leier gekies nie.

Na skool het Henni regte aan die Universiteit van Pretoria studeer waar hy sy B.Iuris en B.Proc grade verwerf het.


Henni Britz is aangewys as parlementslid van die Nasionale Raad van Provinsies.

Omdat sy ma die pot aan die kook moes hou, het hy egter ingespring om finansieel tot sy studies by te dra.

Hy het gedurende vakansietye by die Pilkington Glasfabriek gewerk.

Hy het ook by Impala Platinum Raffinadery uitgehelp en later by die OR Thambo Lughawe (toe nog Jan Smuts Lughawe) gewerk as onder meer ‘n skoonmaker, busdrywer en klerk.

Na afloop van sy studies het hy sy nasionale diensplig aan die Suid-Afrikaanse Lugmag as regsoffisier voltooi met die rang van luitenant.

Sy regsloopbaan het later begin as staatsaanklaer in die Johannesburg- en Soweto Landdroshowe waar hy vinnig bevorder was tot streekhofaanklaer en later aanklaer in die spesialishowe.

Op die ouderdom van 23 was hy aangestel as landdros in Johannesburg en Soweto en in 1990 was hy oorgeplaas na Springs, waar hy as landdros in beide die straf- en siviele howe in Springs en Kwa-Thema gedien het.


LEES OOK: Financial stability, service delivery are priorities says Mayor


Aan die einde van 1993 het hy Britz Prokureurs op die hoek van Vierdestraat en Agstelaan bedryf. ‘n Paar jaar later is hy verkies as raadslid van die stadsraad onder die vaandel van die onafhanklike Springs Forum.

Henni was die raadslid vir die destydse Wyk 1 wat Modderbee, Dersley Park, Presidentsdam, Rowhill, Welgedacht en Welgedacht ingesluit het.

Na sy termyn as raadslid, het hy en sy gesin na Jeffreysbaai verhuis, waar hy onmiddellik weer by plaaslike politiek betrokke geraak het.

“Ons het verhuis omdat ek my kinders in ‘n plattelandse omgewing, nader aan die see en natuur wou grootmaak,” sê hy.

Alhoewel Henni en sy gesin jare gelede verhuis het, het hy steeds baie vriende en familie het wat in Springs woon.

“My spore in Springs loop baie diep,” sê hy trots.

In Jeffreysbaai het Henni weer gepraktiseer as prokureur, en verder gekwalifiseer as aktebesorger sowel as notaris.

In 2005 het hy by die DA aangesluit waar hy ‘n paar jaar later as raadslid van die Sarah Baartman Distriksmunisiplaiteit in die Oos-Kaap verkies was.

Sedert 2016 was hy die DA koukusvoorsitter in die distrikmunisipaliteit en is gedurende 2021 die eretitel van raadsheer toegeken.

Hy dien steeds op verskeie DA strukture, ondermeer die Oos-Kaapse Provinsiale Raad sowel as die Federale Regskommissie.

Na afloop van die onlangse nasionale verkiesing is Henni parlementslid in die Nasionale Raad van Provinsies gekies.

“Dit was ‘n doelwit waarna ek vir baie dekades gewerk het, en wat nou verwesenlik is. Ek is van mening dat ek die mense van my kiesafdeling ten beste kan dien in die Nasionale Raad van Provinsies in die Parlement.”

Hy was op 15 Junie by die Internasionale Konferensiesentrum in Kaapstad ingesweer.

“Dit was ‘n besondere groot eer toe ek ingehuldig was, maar ook baie emosioneel omdat my oorlede ouers en my ouma nie daar was om dit te aanskou nie.”

Henni het al op skool die droom gehad dat hy eendag ‘n lid van die parlement wil wees.

Hy het jare gelede al met die eerste romantiese afspraak saam ‘n meisie (nou sy vrou) vertel hoe hy eendag in die leerstoele van die Parlement gaan sit.

Henni is van mening dat sy regsondervinding van die afgelope 35 jaar saam met sy politieke agtergrond van 29 jaar ten beste binne die strukture van die raad van provisies in die parlement kan aanwend.

Related Articles

Back to top button