Local newsNews

Delarize verloor haar dapper stryd teen kanker

Delarize het Sondagoggend haar laaste asem in die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal uitgeblaas.

Skok, verslaentheid en groot hartseer heers nadat dit bekend geword het dat die 16-jarige Delarize Stevenson van Strubenvale Sondag haar moedige stryd teen kanker verloor het.

Delarize was in September 2022 met fase drie osteosarkoom gediagnoseer. Osteosarkoom is ‘n seldsame beenkanker wat gewoonlik by kinders voorkom.

Die kankergewas het aggressief begin groei, wat daartoe gelei het dat haar regterbeen nege maande terug geamputeer moes word om te verhoed dat die kanker verder versprei.

Dit was egter te laat en die gewas het reeds oor haar blaas begin groei, en na haar longe versprei. Mediese personeel het maande gelede al vir die Stevenson gesin gesê dat daar nie meer iets is wat hulle vir haar kan doen nie.

Een van Delarize se laaste wense was om die bekende sanger Karlien van Jaarsveld te ontmoet.


Delarize Stevenson saam met Karlien van Jaarsveld toe die sanger haar onlangs besoek het.

Die Advertiser het die ontmoeting gereël en haar wens het waar geword toe Karlien haar in Mei by haar ouerhuis verras het. (Karlien van Jaarsveld verras jong kankerlyer met besoek).

Emosies het oorgeneem maar nadat Karlien vir haar ‘n liedjie gesing het, het die twee kans gekry om mekaar beter te leer ken en het lekker saam gekuier.

Delarize het daardie dag vir Karlien mooi laat verstaan dat sy verreweg haar grootste aanhanger is. Die 16-jarige kankerlyer se liggaam het egter die laaste tyd al meer verswak.

Sy moes op haar jong ouderdom ‘n kateter kry en sy was vir die laaste paar weke op suurstof en haar niere het begin ingee.

Sy was vanaf 29 Junie in die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg waar sy Sondagoggend oorlede is.


Delarize Stevenson het vir twee jaar lank moedig geveg voordat sy Sondag haar stryd teen kanker verloor het.

Die tyding van haar dood het gou versprei en ‘n somber atmosfeer het Sondagaand geheers toe inwoners van die dorp ‘n nagwaak vir haar gehou het

‘n Groot groep mense het by die nagwaak opgedaag om respek te toon deur kerse aan te steek en lanterns in die lug op te laat gaan. Pastoor Floors van der Westhuizen het die nagwaak behartig en met gebed geopen. Hy het vir die familie gebid en hulle bemoedig om op God te vertrou.

“Delarize het miskien haar stryd keen kanker verloor maar sy staan vandag in oorwinning saam met Jesus Christus,” het van der Westhuizen gesê.

‘n Paar liedere is tydens die nagwaak gesing, onder andere You raise me up. Na afloop van die nagwaak het talle motors in stoet gery om ‘n laaste eer aan Delarize te betoon.

Teen druktyd was die begrafnis reëlings nog nie gefinaliseer nie.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button