Kapteinskap sorg vir geskiedenis

Dit is die eerste keer in Hoërskool Hugenote se geskiedenis dat een van hulle eie as kaptein by die Cravenweek gekies is.

‘n 18-Jarige rugbyspeler van Strubenvale se Cravenweek kapteinskap sorg vir skole geskiedenis. Tyron Hand het verlede week in Krugersdorp die o18-span op die veld gelei waar hulle in die Valke Cravenweek toernooi gespeel het.

Dit is die eerste keer in Hoërskool Hugenote se geskiedenis dat een van hulle eie as kaptein by die Cravenweek gekies is. Hy het nie die kapteinskap verwag nie en beskou dit as ‘n groot voorreg.

“Ek was baie verbaas om as kaptein gekies te word. Ek het glad nie in myself getwyfel nie en weet dat ek alles wat ek al geleer het, daardie week moet toepas om ‘n goeie kaptein te wees.”

Hy sê ook dit was vir hom ‘n eer om sy skool se naam tydens die toernooi hoog te hou.

“Kapteinskap is vir my uitdagend omdat ek twee rolle gelyktydig moet balanseer. Ek moet ‘n goeie speler op die veld wees en my mede spelers lei, wat soms moeilik kan wees.

“Ek vat my kapteinskap baie ernstig op want dit kan soms ‘n wen of verloor bepaal,” vertel Tyron.

Dit was egter nie die eerste keer wat hy as kaptein vir ‘n rugbyspan uitgedraf het nie. Hy is tans ‘n baie sportiewe matrikulant aan die Hoërskool Hugenote en is uit die aard van die saak ‘n sleutelspeler vir Hugenote se eerste span.

Hy blink uit in die nommer sewe-trui en staan hier ook die skoene van kaptein vol.

“Flank is vir my ‘n lekker posisie waar ek iets van alles kan doen en so my talent kan uitleef.”

Tyron se liefde vir die spel het soos enige ander al van jonk af begin. Hy vertel hy het al van vyfjarige ouderdom af saam met vriende en familie in die agterplaas gespeel wanneer daar gebraai was.

“Dit is beslis waar my passie vir rugby begin het,” sê hy.

Tyron se rugby talente het regdeur sy laer- en hoërskool loopbane sy plek in die A-span verseker.

Hy was vir die eerste keer in 2022 vir die Valke span gekies en volgens hom het die Grant Khomo week hom gehelp om ‘n naam vir homself te maak.

Verlede jaar was hy weer vir die Valke o17 Rhino Week span gekies en het uit die staanspoor ‘n goeie indruk gemaak.

Hier is hy vir die o17 Suid-Afrikaanse Rhino Week span gekies wat in Desember na Ireland getoer het.

Hoewel Tyron nie besluit om rugby as loopbaan keuse te volg nie, wil hy egter nie sy passie vir die spel verloor nie en beplan steeds om na skool vir ‘n rugby unie of universiteit te speel.

“Ek het nog altyd ‘n passie vir landbou gehad en sal graag in daardie rigting wil gaan. Dit sal lekker wees as ek steeds rugby kan speel, maar dit sal nie my hoof fokus wees nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version