Rugbykenner gekies as Valke adjunkpresident

"Dit gaan vir my oor die liefde vir die spel en die impak wat ek in jong spelers se lewens kan maak.”

Rugbyliefhebber Rudolf Cronjé leef steeds na al die jare sy droom in die rugbywêreld uit. Rudolf se liefde vir die sport het soos enige ander al op ‘n baie jong ouderdom reeds begin.

“Ek sal nooit vergeet toe my ma op my 10de verjaardag vir my gevra het wat ek wou word en ek gesê het ek wil sport studeer sodat ek so lank as moontlik met rugby te doen kan hê, en ‘n lewe daaruit kan maak.”

Hy het rugby regdeur sy laer- en hoërskool loopbane gespeel. Na skool het hy BA Sport afrigting/ bemarking en rekreasie aan die Universiteit van Potchefstroom studeer.

In 1991 het Rudolf in die nommer nege trui vir die Nigel Rugbyklub uitgedraf en in 1992 is hy gekies vir die Oos-Transvaal Sub-Unie rugbyspan.

Deur die jare het Rudolf ook sy afrigtingstyl by verskeie rugbyspanne toegepas, enigiets van die Cravenweek, Curriebeker en selfs die Valke vroue rugbyspan.

Rudolf het ook al sy merk by die Springs Rugbyklub afgedruk. Hy het eers begin as afrigter. Later was hy die klubkaptein, het vir twee jaar as ondervoorsitter gedien en is later as voorsitter van die klub aangestel.

Dié 52-jarige is al vir 12 jaar ‘n onderwyser by die Hoërskool Hugenote waar hy die afgelope twee jaar die skoene van rugbydirekteur volstaan. Hy erken dié titel met al sy verantwoordelikhede hou hom op sy tone.

“Om wedstrydbepalings te doen vir 16 skole met elkeen nege spanne en om seker te maak almal speel sonder dat daar enige botsings op die program is nie, kan beslis uitdagend raak,” vertel hy.

Rudolf pronk deesdae ook met die titel as adjunkpresident van die Valke Rugby Unie. Hy is al vir 14 jaar lank by dié unie betrokke.

Hy het as ‘n provinsiale afrigter in 2010 begin en uit die staanspoor ‘n indruk gemaak. Hy is later as visiepresident van die unie verkies en by vanjaar se algemene jaar vergadering is hy as adjunkpresident van dié Gautengse rugby unie aangewys.

“Dit is ‘n eer vir my om as adjunkpresident verkies te word,” sê hy.

“Dit gaan vir my oor die liefde vir die spel en die verandering wat mens in jong spelers se lewe kan maak.”

Alhoewel Rudolf se rugbygeskiedenis reeds van nostalgie spreek, beoog hy om binne die volgende paar jaar vir president van die Valke Rugby Unie te staan.

Exit mobile version