Kunstenaar sing in Oppi Noot

Ilana beoog om binnekort ‘n paar van haar eie liedjies uit te bring.

Om ‘n sukses in die musiekbedryf te maak vat meer as net ‘n goeie stem; gepaard daarmee gaan ‘n verhoog persoonlikheid wat die lewenslustige Ilana Jooste verseker nie ‘n tekort aan enige van dié eienskappe het nie.

Die 33-jarige kunstenaar was onlangs te sien op in die tweede episode van Oppi Noot, kykNET se splinternuwe musiekspeletjie program waarin sangers aan sang gebaseerde uitdagings deelneem.

Met hierdie program het Ilana R10 000 gewen.

“Dit was ‘n lekker gevoel. Ek was opgewonde en sommer trots op myself,” het sy gesê.

“Dit was baie lekker om vir Johan Stemmet te ontmoet en selfs om saam met Emo Adams te werk. Ek het die ondervinding baie geniet.”

Ilana sê die program was vir haar ‘n goeie ervaring want tydens die program het sy baie geleer by mense wat al jare lank in die musiekbedryf is.

Dit was egter nie die eerste musiekprogram waaraan sy al deelgeneem het nie. Sy was in 2009 een van die deelnemers op Kom Ons Karaoke wat ook op KykNet uitgesaai het.

Oppi Noot was ook nie die laaste musiekprogram waaraan sy gaan deelneem nie.

Na afloop van Oppi Noot is sy deur die vervaardigers van Klankbank genader. Doy is ook ‘n nuwe musiekspeletjie program wat later vanjaar op VIA sal uitsaai.

“Hulle het seker van my persoonlikheid gehou,” lag sy.

Die sangeres van Grootvlei het al op 13-jarige ouderdom haar eerste sangkompetisie gewen. Haar musiek talent kom al van kleintyd af.

“Daar was altyd musiek in ons huis. Ek onthou hoe my ma Celine Dion kliphard gesteel het.”

Ilana het in 2015 aan die Onesto Musiek Kompetisie deelgeneem wat by Carnival City plaasgevind het.

Sonder enige verbasing het sy hierdie kompetisie ook gewen en met die prysgeld weggestap. Illana se paadjie na sukses was egter nie altyd maklik nie. Nadat sy op 13-jarige ouderdom haar pa aan die dood afgestaan het, het sy gesukkel om die trauma te verwerk.

“Ek kon dit net nie aanvaar nie en ek wou dit ook nie glo nie. Ek het al my emosies net onder die mat in gevee,” erken sy.

Sy het op ‘n jong ouderdom al begin rebelleer. Sy is aan dwelms blootgestel en het kort daarna verslaaf geraak.

“Dit is wat trauma aan ‘n mens doen wanneer jy dit nie verwerk nie. Dwelms maak jou selfsugtig.

“Jy steel en lieg en bedrieg om jou verslawing te finansier. Ek het elke sent wat ek in die hande kon kry, vir dwelms gebruik. Selfs die geld wat ek destyds met my sang gemaak het.”

Ilana het eendag besef dat sy haar lewe gaan moet omdraai.

“Ek moes skoon kom. Niemand wou my meer regtig in hulle huis hê nie omdat ek alles gesteel het.”

Sy het elke laaste pakkie dwelmmiddels in die toilet afgespoel.

“Die pakkie het net bly op kom. Ek moes omtrent ses keer die toilet spoel voordat dit uiteindelik weggespoel het. Daardie aand het die Here my geloof behoorlik getoets.”

Ilana is die afgelope agt jaar vry van dwelms nadat sy vir meer as sewe jaar verslaaf was daaraan.

“Vandat ek my lewe omgedraai het, seën die Here my net. Seëning op seëninge.”

Sy is deesdae ‘n erkende vokale afrigter in die gemeenskap. Sy het tans agt studente wat sy afrig en help om hul stemme te ontwikkel.

Wanneer sy nie afrig nie, word sy self op die verhoog gesien. Sy sing gereeld by feeste of restaurante van Bapsfontein tot in Vanderbijlpark.

Alhoewel sy verskeie musiek genres sing, erken sy dat rock verreweg haar gunsteling is.

“Om nuwe musiek uit te bring is vir my uitdagend want ek hou maar van die ‘golden oldies’. Ek sal moet aanpas by die jonger garde se musiek smaak.”

Ilana beoog om binnekort ‘n paar van haar eie liedjies uit te bring en droom daarvan om eendag haar eie CD vry te stel.

Sy vertel ook dat Emo Adams haar aangemoedig het om haar eie kinderprogram te begin.

“Dit is beslis in die pyplyn en sal hopelik op VIA uitsaai,” vertel sy trots.

Ilana se lewenslus en energie wanneer sy die verhoog betree, is beslis die sleutel tot haar sukses.

Exit mobile version