Local newsNews

Rugbyster mik vir groen en goud

"Vandat ek begin rugby speel het, was dit nog altyd my grootste droom om vir die Springbokke te speel."

Op die veld is spoed en krag dikwels belangrike sleutels tot ‘n suksesvolle wedstryd en Erich Cronjé het nie ‘n tekort aan dié vaardighede wanneer hy in sy rugbytrui uitdraf nie.

Hierdie 27-jarige rugbyspeler is al vir amper ‘n jaar lank deel van die Leeus rugbyspan. Volgens die kontrak wat hy geteken het sal hy nog tot 2026 vir dié span uitdraf.

Hulle volg tans ‘n streng oefenprogram waar hulle Maandae tot Woensdag vanaf 07:00 tot 15:00 oefen.

Vrydae werk hulle nog ‘n vinnige oefensessie in en Saterdae speel die span gewoonlik wedstryde.

In totaal het Erich al ongeveer 15 wedstryde vir die Leeus gespeel. Hy vertel die span voel vir hom soos familie.

“Almal kom oor die weg en jy kan net altyd jouself wees. Daar is ‘n goeie band tussen ons almal,” vertel hy.

Hy floreer tans in die nommer 13-trui maar is ook gemaklik in die nommer 11 of 14-trui. Hy sê ook dat hy met ‘n rugbybal onder die arm gebore was.

Erich se passie vir rugby het ‘n jong ouderdom begin toe hy nog deel van Laerskool Jan van Riebeeck se Valkie rugbyspan was.

Dié rugbyster het in Casseldale grootgeword en sy hoërskool rugbyloopbaan by Hoërskool Dr EG Jansen in Boksburg voort gesit.

In 2018 het Erich sy sertifikaat in sportwetenskap aan die Universiteit van Pretoria bekom. In sy rugbyloopbaan het hy reeds baie ervaring opgedoen.

Hy het al vier seisoene vir die Blou Bulle gespeel, een seisoen vir die Suidelike Kings, ‘n seisoen vir die Pumas en twee seisoene vir die Italiaanse span – Zebre.


SuperSport het onlangs vir Erich Cronjé as die Leeus se held van die week uitgesonder.

SuperSport het onlangs ‘n handjievol spelers as die helde van die week uitgesonder, waarvan Erich die Leeus se held van die week was.

“Ek voel baie trots op myself. Om beloon te word vir jou harde werk is altyd ‘n lekker gevoel,” sê hy.

Dit was egter nie sy enigste rugby prestasie nie. Hy was in 2019 as die top driedrukker by die Kings aangewys.

In 2020 was hy die Pumas se agterlyn speler van die jaar asook Zebre se agterlyn speler van die jaar vir 2022.

Hy is nie net ‘n rugbyspeler nie maar ook ‘n geliefde man en pa en wanneer hy nie op die veld is nie geniet hy kwaliteit tyd saam met sy vrou, Elandre (26) en hulle twee-jarige dogtertjie, Aleia.


LEES OOK: Karate stars from Kishou JKS Academy shine at JKS Nationals


“Omdat ons af tye beperk is, geniet ek elke oomblik wat ek kan saam met my vrou en dogtertjie.”

Volgens hom is dit die ondersteuning van sy vrou wat hom gebring het waar hy vandag is.

“My vrou was vanaf dag een saam met my deur alles en my dogtertjie het vir my weer nuwe uitsig in die lewe kom gee,” vertel hy en voeg by: “Nog meer rede om harder te werk om vir haar ‘n toekoms te gee.”

Erich droom daarvan om in die groen en goud uit te draf.

“Vandat ek begin rugby speel het was dit nog altyd my grootste droom. Ek is geseën met ‘n talent van die Here af en dit is hoekom ek dit so geniet, want ek speel vir Hom.”

Related Articles

 
Back to top button