Local newsNews

Muurskildery kry nuwe baadjie

"Hierdie muur vertel 'n mooi storie en 'n bietjie geskiedenis; dit is wat dit so spesiaal maak"

Ter viering van Lefra Produksies se 30ste bestaansjaar in die vermaaklikheidsbedryf, word die spesiale muurskildery te 2de Laan en 8ste Straat hernu en oorgeverf.

Die besturende direkteur van Lefra Produksies, Frans Swart, was 28 jaar gelede (nie 35 jaar soos voorheen berig nie) ook deel van die projek toe dit aanvanklik geverf is.

“Die junior stadsraad was destyds verantwoordelik om die muur te verf,” het Swart verduidelik.

“Rdl Gert Parsons was toe die voorsitter van die bestuurskomitee en hy het vir ons al die ondersteuning gebied om die muur te verf,” het Swart bygevoeg.


Frans Swart, die besturende direkteur van Lefra Produksies het nie geskroom om sy kant te bring nie.

“Ek onthou dat ons ‘n nasionale kunskompetisie uitgeskryf het en dat die ontwerp van ‘n kunsstudent van die Universiteit van die Pretoria, Marina Scholtemeijer, deur die beoordelaars as die wenner aangewys is.”

Tot Swart se verbasing is die muurskildery nie in die afgelope twee dekades gevandaliseer nie en hy is hoopvol dat dit so sal bly.

Dit het egter verbleik en ‘n nuwe laag verf was nodig om dit weer lewe te gee.

In ‘n onlangse berig (Lefra to restore unique mural) het Swart voormalige stadsraadslede en die gemeenskap uitgenooi om deel van die oorverf van die muurskildery te wees.


Die kuns studente van Buckingham Akademie het hul talent op die proef gestel.

Hot Pot Paint, wat 28 jaar gelede die verf geborg het wat gebruik is om die muur te verf, het nie geskroom om vanjaar weer die verf vir dié inisiatief te borg nie.

Die besturende direkteur van Hot Pot Paint, Gerald Kalil, sê dat dit vir hulle ‘n eer en voorreg is om met hierdie projek geassosieer te word.

Talle vrywilligers het Donderdag gaan hand bysit om die muurskildery weer na sy voormalige glorie te laat uitsien.

‘n Groep kuns studente van Buckingham Akademie in Strubenvale het hulle goed van hulle taak gekwyt en daar was selfs ‘n paar jonger leerders van die Rainbow Onderwyssentrum in Casseldale wat ook fluks gehelp het.


Declan Mostert het met oorgawe gehelp.

Tydens die hernuwing van die groot muurskildery het Swart vir Hot Pot Paint, rdl Charmaine Kock, Tony da Cruz asook die kuns studente bedank vir hulle hulp en bystand met die projek.

Da Cruz, die besturende direkteur van Pro Safe Sekuriteit, beywer hom vir die restourasie en verfraaiing van onder andere sleutelpunte, museums en monumente in Springs.

“Hierdie muur vertel ‘n mooi storie asook ‘n bietjie geskiedenis; dit is wat dit so spesiaal maak,” het Swart gesê.

Hy het ook die gemeenskap aangemoedig om betrokke te raak by soortgelyke opkomende projekte sodat Springs opgekikker kan word en sodoende weer ‘n dorp is waarop almal trots kan wees.

Related Articles

 
Back to top button