Elney skop stof in rugbyseuns se oë

Ek hou daarvan om die seuns wat my onderskat te ‘tackle’.

Alhoewel vroue deesdae meer op die rugbyveld in aksie is, word dié sportsoort dekades lank gesien as ‘n sport wat eintlik vir die manlike geslag bedoel is.

Die 10jarige Elney Hattingh leen egter nie haar ore aan stories uit nie en sy is gereeld op die rugbyveld te sien.

Elney het van kleins af reeds saam met haar twee broers, Ewan (9) en Dwyne (14) rugby begin speel.

Die dag toe sy haar hande vir die eerste keer op die bal gelê het, was die koeël deur die kerk.

Sy het in Graad Een probeer om netbal te speel maar het gou besluit dat rugby na baie meer pret lyk.
Sy reken dat rugby nie so ‘boring’ soos netbal is nie.


Elney Hattingh se liefde vir rugby pols deur haar are.

Elney is tans Laerskool Jan van Riebeeck se enigste meisie rugbyspeler maar vertel dat sy nie geïntimideerd voel deur al die seuns om haar nie.

“Dit is eintlik lekker om die enigste meisie te wees, ek hou daarvan om die seuns wat my onderskat te ‘tackle’”, vertel sy.

Haar duikslae staan bekend as haar sterkpunt en daarom is sy tans gemaklik op die veld as heelagter want met haar verdedigingsvaardighede kan sy die nommer vyftien trui met trots dra.

“Haar duikslae is regtig altyd tops. Sy mis nie een seun nie en keer almal wat verby wil kom,” vertel haar ma Christelle (38) trots.

Elney is egter ‘n veelsydige rugbyspeler en bied meer as net verdediging vir Jannies se o10 rugbyspan.


Elney Hattingh dra die nommer vyftien trui met trots.

Sy was ook al in die nommer elf trui te siene waar sy op die aanval was en haar spoed tot haar voordeel kon gebruik.

Elney word dikwels onderskat en teenstanders sien haar as die ‘swak skakel’ in die span.

“Die seuns is geneig om haar te teiken. Selfs die ouers langs die veld moedig hul seuns aan om haar te teiken maar sy bewys hulle keer op keer verkeerd,” sê Christelle.

Beserings skrik egter nie die jong rugbyspeler af nie want nadat sy verlede jaar haar sleutelbeen tydens ‘n rugby oefening gebreek het, het sy nie gehuiwer om so gou as moontlik weer haar rugbytrui aan te trek nie.

“Ek weet ons moet ons regmaak vir nog moontlike beserings want dit kom ongelukkig saam met die sport maar ek ondersteun haar ongeag.”

Elney oefen tans Maandae tot Donderdae saam met haar span by die skool en op Vrydae oefen sy by die Springs Rugby Klub waar sy ook ‘n lid is.

Die Valke Rugby Unie het onlangs die blondekop genader en sy is tans in die proses om by dié Unie aan te sluit.

Haar liefde vir rugby pols deur haar are en sy droom daarvan om eendag met ‘n Springboktrui uit te draf om haar land te verteenwoordig.

Sy wil graag ‘n inspirasie vir ander meisies wees deur vir hulle te wys dat die skoner geslag enige iets kan bereik met harde werk.


Exit mobile version