Local newsNews

Hierdie 90-jarige se hande staan vir niks verkeerd nie

Tannie Sharpie bak vandag nog vir tuisnywerhede van die dorp

‘n Bekende inwoner van die dorp, Tina Sharp ook bekend as tannie Sharpie, het onlangs haar 90ste verjaarsdag gevier.

Die geleentheid is Saterdag by Stable Inn gevier met ‘n verrassingspartytjie waar haar kinders, familie en vriende in die vreugde kon deel.

Tannie Sharpie wat tans woonagtig in Casseldale, is in 1934 in Graaff-Reinet gebore en het haar grootword jare op ‘n plaas in die Oos-Kaap deur gebring.

Haar grootword jare spreek van nostalgie en sy vertel staaltjies van die verlede met ‘n breë glimlag. Sy en haar oorlede man, Leslie het oor die jare baie rondgetrek en onder meer in plekke soos De Aar, Bloemfontein en Vereeniging gewoon maar het uiteindelik in Springs wortelgeskiet.

Sy woon die afgelope 63 jaar in Springs. Tina en Leslie was 49 jaar getroud en sy beskryf dié ‘rooinek’ as haar enigste groot liefde.


LEES OOK: Residents invited to comment on the city’s budget and IDP


Hy is 21 jaar gelede oorlede aan ‘n hartaanval. Uit die huwelik het hulle nege kinders, 24 kleinkinders, 35 agter kleinkinders en twee agter-agter kleinkinders.

Tannie Sharpie se hande staan steeds vir niks verkeerd nie. Sy het haar jare deurgebring as bakster en bak vandag nog vir tuisnywerhede van die dorp.

“Ek geniet dit vreeslik om te bak; dit is my passie. Ek kan nie ledig sit nie. Dit hou my nog lekker aan die gang,” het sy vertel.

Wanneer tannie Sharpie nie bak nie, bied sy haar helpende hand aan in die gemeenskap. Sy vertel sy hou daarvan om uit te reik en ander te help wat minder bevoorreg is.

Die 90-jarige is nog jonk van gees en staan bekend vir haar vriendelikheid en konstante lag. Sy erken dat sy op God vertrou vir haar gesondheid.

“Ek is al deur baie dinge in my lewe en Sy genade van Bo het my keer op keer deur alles gedra.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button