Egpaar sal altyd trotse Suid-Afrikaners wees

Hulle het in 2022 hul Kanadese burgerskap ontvang en woon vanjaar al ses jaar in daar.

Om jou hele lewe op te pak en in ‘n ander land nes te skrop sit nie in almal se broek nie, maar die Van Deventer gesin skrik nie vir ‘n uitdaging nie.

Alhoewel hulle nou as Kanadese beskou word, het Lourens (36) en Letitia (32) beide in Springs grootgeword en die meerderheid van hul lewe hier deurgebring.

In 2016 het die paartjie die knoop deur gehaak en op daardie stadium het hulle koppe reeds buiteland toe gestaan.

“Ons wou nog altyd ons horisonne verbreed. Ons het ‘n nuwe avontuur gesoek en moes dit aanpak terwyl ons nog jonk is,” het Lourens vertel.

Hulle is amptelik in 2018 goedgekeur om te emigreer en alhoewel nie een van hulle op daardie stadium werk aan die ander kant gehad het nie, het hulle nie geskroom om hul tasse te pak nie.

“Ons het letterlik werkloos geëmigreer en alhoewel dit ‘n groot risiko was, moes ons die `leap of faith’ vat,” vertel Lourens.

Kort na die groot skuif het beide van hulle werk in Kanada gekry. Hulle beskou die eerste paar maande van die emigrasie as uitdagend.

“Ons het werklik niemand anders geken nie. In daardie tyd het ons geleer om op mekaar te steun.”

Die paartjie erken dat emosies ‘n groter rol speel as wat hulle gedink het.

“Emosies dryf jou besluite en daarom probeer ons altyd op die positiewe fokus en die negatiewe eenkant toe te skuif,” het Lourens aan die Advertiser vertel.

“As emosies wil oorneem, herinner ek net myself dat ons hierdie vir ons kinders doen. As ‘n mens kyk hoe gelukkig hulle is, ons is veilig en het geen bekommernisse nie, dan skuif mens jou emosies eenkant toe,” het Letitia gesê

Die paartjie hou vol dat die weersomstandighede steeds ‘n groot aanpassing is met die wintermaande wat soms -44 grade bereik.


LEES OOK: Dubbeldoor vyf generasies vir familie


Hulle vermoed dat hulle nooit aan die koue gewoond sal kan raak nie. In die wintermaande ski of ysskaats die hulle graag met die kinders.

“Mens moet jouself besig hou,” sê Lourens. “Want om in die huis te sit en vir die sneeu buite te kyk sal mens van jou kop af maak.”

Die paartjie erken dat hulle saans baie keer vergeet om die huis se deure te sluit omdat dit nie nodig is om agter slot en grendel te woon nie.

“Soms wonder ek, het ek wel die deur gesluit? En as ek nie het nie, gaan ek beslis nie nou uit die bed uit opstaan om dit te gaan kyk nie,” vertel Lourens laggend.

Letitia is glo veel eerder bang dat ’n moose of beer hulle huis sal binnegaan as ’n inbreker. Suid-Afrika se misdaad het ’n baie groot rol gespeel op die paartjie se besluit om groener weivelde te soek.

“In Kanada het ’n mens het geen vrees dat iemand jou kind of selfs net jou selfoon gaan vat nie.

“Dit voel eintlik of ons altyd op vakansie is omdat ons nie daai onbewustelike vrees het nie, en nie heeltyd oor ons skouers hoef te loer nie.”

Letitia hou vol dat Kanada ’n beter tuiste vir hulle is oor die wedersydse respek wat mense vir mekaar het, die manier waarop kinders daar grootgemaak word, en natuurlik die veiligheid.

“Die kinders kan in winkelsentrums rondhardloop sonder dat jy bekommerd hoef te wees dat iemand jou kind gaan optel en weghardloop,” het sy vertel.

Al is hulle duisende kilometers weg, kry hulle dit steeds reg om ’n hegte band met hul families te behou. Hulle bel glo een maal per week om te op te vang en te verseker dat die kinders ’n band met hulle oumas en oupas kan geniet.

“Ek dink soms gesels ons meer met ons ouers as meeste mense wat hier in Suid-Afrika is wat mekaar net een keer elke paar maande sien,” vertel Letitia laggend.

Daar is ook baie skuldgevoelens wat met die emigrasie gepaard gaan.

“Ons weet dat ons ouers nou ouer word en dat ons kleinkinders het wat ons tegnies van hulle weerhou.”

Hulle erken ook dat hulle baie huis toe verlang en dat die heimwee hulle soms onkant betrap.

“Daar is dae wat ons net bietjie saam met vriende en familie wil braai; of wanneer die kinders mylpale bereik dan wens ons ouma en oupa was daar om dit saam ons te beleef.”

Alhoewel dit ’n defintiewe snellerpunt vir verlange is, luister hulle graag Afrikaanse musiek in die huis.

Lourens en Letitia het onlangs saam met hulle twee dogters, Lia en Lumae vir ses weke in Suid-Afrika gekuier waar hulle in Springs en in Jeffreysbaai vakansie gehou het.

Hulle erken ook dat hulle baie na Suid-Afrika se kos verlang.

“Ons het nie besef hoe lekker die kos hier is totdat ons getrek het nie.”

Die gesin het in 2022 hulle Kanadese burgerskap ontvang en in Julie vanjaar sal hulle al ses jaar in Calgary, Kanada woon. Hulle beskou hulself as trotse Suid-Afrikaners wat daar woon.

Alhoewel dit nie in hierdie stadium deel van hulle plan is om terug te keer nie, het Lourens die gesprek beëindig met “Never say never.”

Exit mobile version