Local newsNews

Rolbal is in Tokkie se bloed

Leer ons dorp se mense ken.

Tokkie Hattingh (70) en haar lewensmaat Izak (78) is al 38 jaar by die Springs Rolbalklub betrokke en dit is hier waar Izak al vir vier jaar die voorsitter is. Die paartjie woon in Geduld Uitbreiding.

• Wanneer het jy by die Springs Rolbalklub betrokke geraak?
Ons is vanaf 1986 by die klub betrokke, hierdie jaar sal dit dus 38 jaar wees. Ons het eers later op die komitee begin dien want ons albei het gewerk en kon net op naweke speel.

• Wat het jou laat besluit om by die klub betrokke te raak?
Izak het destyds wedvlugduiwe gehad en toe sê hy eendag dat hy dit sal los, maar dan moet ons gaan rolbal speel. Ons het een Saterdagoggend verby die klub gery en daar was ‘n man met die naam Frank Howard op die baan wat vir ons gesê het om klere te kry sodat ons kon saam speel.

• Wat geniet jy die meeste van die sport?
Ons geniet rolbal want dit is ‘n sport wat jy reg deur die jaar kan beoefen en jy kan jare met net een stel rolballe speel.

• Hoeveel lede is julle wat tans aan die klub behoort?
Ons is tans ongeveer 90 lede, maar nie almal is so betrokke nie.

• Wie kan by die rolbal klub aansluit?
Enige persoon. Ons het selfs ‘n afrigter wat die mense verniet kan help touwys maak.

• Wat sal jy vir iemand sê wat van mening is dat dit ‘n ‘oumens sport’ is?
Daar is jong mense van die ouderdom van 10 jaar wat speel en selfs rolbalkampioene wat in hulle 20’s is. Jy kan ook genooi word vir rolbal proewe om vir Ekurhuleni Distrik te speel. Hulle speel een keer ‘n jaar teen al die ander provinsies vir ‘n week lank.

• Wat doen jy om te ontspan?
Ek kuier graag saam met my rolbal familie vandat ek op pensioen gegaan het.

• Wat is jou gunsteling gereg?
Ek het nie net een gunsteling gereg nie, daar is baie en veral as ek nie slef die gereg gemaak het nie.

• Wat is iets waaraan jy nie jou mond sal sit nie?
Ek sal beslis nie “tripe” (afval) eet nie!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button