Tiener ontvang rits pryse

Sy het die NSS eksamen met agt onderskeidings geslaag.

Met haar toewyding en harde werk, is dit geen verrassing dat Alexia Vermeulen een toekenning na die ander opraap nie.

Die 18-jarige het by die onlangse Gauteng-Oos Distrikstoekennings met verskeie toekennings agter haar naam weggestap.

Dié geleentheid het op 9 Februarie by Stable Inn plaasgevind en dit is hier waar Alexia die Hoërskool Hugenote se naam omhoog gehou het.

Sy is aangewys as beste kandidaat in Afrikaans huistaal met haar 88% slaagsyfer. Sy het ook die toekenning ontvang vir die beste leerder in rekenenaarstoepassingstegnologie met ‘n uitmuntende 91%.

Alexia het die Nasionale Senior Sertifikaat eksamen met agt onderskeidings geslaag wat haar in die 5de plek in die Oos-Gauteng se top 10 laat.

“Ek was baie geskok toe ek al die toekennings ontvang het. Ek het nie een van hulle verwag nie,” het Alexia vertel.

Tydens die eindeksamen was sy gemotiveerd om vir ‘n laaste keer baie hard te leer.

“Ek het geweet dié eindeksamen is van die belangrikste eksamens in jou lewe en dat jou sertifikaat jou oral sal volg na skool.”

Haar ouers is trots op haar en dankbaar dat sy die vrugte kon pluk van al die harde werk wat sy ingesit het.

“Ons het geweet sy sal goed doen want sy het ongelooflik hard geleer. Die toekennings was onverwags en ‘n aangename verrassing,” het haar ma Chantelle Vermeulen (43) gesê.

Alexia was in 2023 onderhoofmeisie by Hoërskool Hugenote en het jaar na jaar haar plek op die top 20 verseker.

“As sy nie agter ‘n boek gesit en geleer het nie; kon jy haar êrens op ‘n hokkieveld vind,” het Chantelle vertel.

Alexia glo dat ‘n mens ‘n goeie balans tussen sport en akademie moet handhaaf. Sy is tans ‘n eerstejaar student aan die Universiteit van Pretoria waar sy BCom Rekeningkunde studeer.

“Wiskunde en rekeningkunde is die vakke waarvan ek die meeste op skool gehou het en ek voel dié beroep is ‘n goeie mengsel van beide.”

Sy beoog om eendag haar eie geoktrooieerde rekenkundige firma te stig of om haar kennis in die buiteland te benut.

“Dit was nog altyd my droom gewees en ek is baie geseënd dat ek die geleentheid kon kry om die droom te laat realiseer.”



ALSO READ: Swift response leads to recovery of firearms and vehicle

ALSO READ: Springs SPCA welcomes Hoërskool Die Anker with paws wide open

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version