Local newsNews

Hugenote onthul geskiedkundige astro hokkieveld

Die baan is die eerste van sy soort in Ekurhuleni, en internasionaal geakrediteerd.

Nuwe hoogtes is Vrydag by die Hoërskool Hugenote bereik toe die skool sy splinternuwe, geskiedkundige Astro-turf hokkieveld onthul het.

Die internasionaal-geakrediteerde baan spog met ‘n afstandbeheerde, elektroniese telbord, netjiese omheining, ‘n gebou vir tellinghouers, en plaveisel om die heining.

Frans Styger, die hoof van die Hoërskool Hugenote, het die baan onthul na amper sewe maande se konstruksiewerk.

“Ek is volgende jaar 38 jaar in die onderwys, en altyd is daar gepraat van ‘n astro. ‘Kom ons bou ‘n astro’, en elke keer wat iemand praat van ‘n astro het ek omgedraai en geloop,” het hy vertel.


Die dogters A- en B-spanne het die eerste wedstryd op die baan gespeel nadat die lint gesny is.

“Dis regtig ‘n geskiedkundige oomblik. Dis ‘n internasionaal-geakrediteerde baan, en dit is ‘n belegging vir ons dorp en vir die hele Oos Rand,” het Styger gesê.

“Iemand aan wie ek regtig my gelukwense wil oordra, is Pieter van der Walt. Pieter is gefokus op hokkie, en hy het die hele projek van stapel gestuur,” het Styger verder gesê.

“Daar is nog ‘n paar goed wat afgehandel moet word, soos die installering van spreiligte, bou van badkamers en voltooiing van die plaveisel rondom die baan, maar die hoop is dat die baan homself sal afbetaal.”

Hulle beplan om groot toernooie daar aan te bied en is reeds gereed vir ander skole om die baan te huur.

“Dankie aan my twee adjunkhoofde wat altyd by my staan.”

Pastoor Kobus Grobler het ook die gaste toegespreek oor die lang proses om die baan te bou.

“Ek het vir hom (Pieter) gesê daar is ‘n verskil tussen ‘n droom en ‘n visie. In ‘n droom word jy wakker en hy is weg.

‘n Visie vat ‘n man om in te spring en te begin. Pieter het nie ‘n droom gehad nie, hy het ‘n visie gehad,” het Grobler gesê.

“Hierdie is nie net ‘n bate vir Hugenote nie, dis ‘n bate vir ons stad (Ekurhuleni),” het Grobler bygevoeg.


Ds Pierre Roets, Pieter van der Walt, Frans Styger, past Kobus Grobler en Gunte Kömmer tydens die sny van de lint om die baan amptelik te open.

“Terwyl ons almal bou aan hierdie stad; kom ons vergeet nie om hande te vat nie, en kom ons vergeet nie om dankbaar te wees nie.”

Daar was verskeie borge wat hierdie visie help verwesenlik het, maar skuld is steeds aangegaan om die baan te voltooi.

Die uitverhuur van die baan sal help om die skuld af te betaal, maar om die skool ‘n hupstoot te gee is ‘n klein motorfiets uitgeloot as deel van die onthulling.

Die lint is Vrydagmiddag gesny om die baan amptelik in gebruik te neem en daarna het die dogters A- en B-span en seuns A- en B-span die eerste twee wedstryde op die baan gespeel.




ALSO READ: SARS: Time to upskill your employees

ALSO READ: Book for free performing arts masterclass

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button