Local newsNews

Liggiehuis bring vreugde en hulp

Die bure is nie net geduldig met die bohaai nie, maar behulpsaam ook.

Casseldale inwoner, Chris Botes se huis by Broomstraat 58 word elke jaar met die ondersteuning van sy bure en familie versier met honderde Kersliggies wat besoekers van heide en verre lok.

Vanjaar is dit die dertiende jaar wat die huis omgetower word en die publiek kan dit nog tot 26 Desember gaan besigtig.

Vanaf 22 Desember sal Kersvader ook te siene wees sowel as ‘n ‘treintjie’ waarin kinders om die blok kan ry terwyl daar Kersmusiek gespeel word.

Die familie deel ook lekkergoed pakkies uit aan kinders, maar samel ook kos, klere, meubels en geld in ter ondersteuning van gesinne wat minderbevoorreg is.

Verlede jaar het hulle na genoeg 700 lekkergoedpakkies voorberei en uitgedeel. Klere, kruideniersware, twee beddens en ‘n houthuisie is al in die verlede geskenk aan minderbevoorregte persone.

Hierdie jaar wil die groep ook graag vir die Springs Dierebeskermingsvereniging skenkings insamel. Die ‘treindrywer’, oom Lionel Randall (soos hy bekend is), ry elke jaar getrou die kinders, wat die liggies kom besigtig, om die blok.

Hierdie jaar het hy ‘n operasie ondergaan, maar hy dring daarop aan dat hy sal reg wees om teen 22 Desember sy plek vol te staan. Die bure is nie net geduldig met die bohaai nie, maar behulpsaam ook.

Een van die bure maak elke jaar vir die groep ‘n skinkbord kos op sodat hulle self kan eet terwyl hulle lekkers verpak.

‘n Ander buurman stoor items en meubels wat gewoonlik in die erf staan op sy erf sodat daar spasie is vir die liggies en mense.

Verlede jaar het meer as ‘n 1 000 mense die liggies gaan besigtig en mense het van so ver as Brits af gekom om die skouspel te bewonder.

Die liggiehuis is tans te sien vanaf 18:00 tot 22:00 en van 22 Desember sal die liggies eers om middernag afgeskakel word.

Mense wat skenkings wil maak vir die liefdadigheidswerk kan dit gedurende die dag of aand by die huis aflewer.
Iemand is altyd tuis om skenkings te ontvang.




Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button