Local newsNews

Skole se hulp kan lei tot R10 000 in die sak

Solidariteit Helpende Hand, Martie de Villiers, Springs-tak, Springs Advertiser, Ons Winkel skole kompetisie, wen, R10 000, rentevrye studielening,

Daar is nog genoeg tyd vir skole van die dorp om in te skakel by Solidariteit Helpende Hand se Oos-Randse Ons Winkel skole kompetisie en sodoende ‘n moontlike R10 000 in die sak te steek.

Leerders word gevra om ou klere, skoene, speelgoed, skryfbehoeftes, sporttoebehore of enigiets anders wat by hul huise oorbodig is, na hul skole te neem.

Elke leerder wat ’n skenking na die skool neem, kry ’n koepon waarop hy of sy hul skool se naam invul voordat dit in die houer geplaas word, wat Helpende Hand aan die skool verskaf het.

’n Helpende Hand projekleier sal die houer met ingevulde koepons weekliks of maandeliks (soos dit die skool pas) leegmaak wanneer die skenkings by die skool opgelaai word.

Leerders en hul ouers kan ook hul skenkings by Ons Winkel in Springs, wat op die hoek van Derdestraat en Negendelaan geleë is, gaan aflaai in plaas daarvan om dit na ’n skool te neem.

Die winkeleienaar sal vir die skenker ’n puntekoepon gee om by die skool in die houer te plaas.

“Jou skool se deelname aan die kompetisie sal nie net help om armoede aan die Oos-Rand en jou eie dorp te verlig nie, maar ook ’n behoeftige leerder in staat stel om te gaan studeer,” het die voorsitter van die Springs tak, Martie de Villiers, gesê.

Studente kan by Helpende Hand aansoek doen om ’n rentevrye studielening, wat hulle in maandelikse paaiemente aan Helpende Hand terugbetaal sodra hulle klaar studeer het.

Die skool aan die Oos-Rand wat die meeste punte met skenkings verdien, sal ‘n kontantprys van R10 000 wen en in die Helpende Hand se “Hall of Fame” vereer word.

Die Oos-Randse skool waar die meeste ondersteunersvorms ingevul word deur persone wat by Helpende Hand wil aansluit, sal ook R10 000 kontant wen.

Die kompetisie sluit aan die einde van Julie. Vir meer inligting kan de Villiers by 082 579 9755 geskakel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button