Skoonheid hoop om tydskrif se voorblad te haal

Die wenner sal later vanjaar op Sarie se voorblad verskyn.

Die beeldskone Shikira Schmidt is vanjaar aangekondig as een van die top 30 vir die Sarie Nuwe Gesig kompetisie.
Sy het vroeër vanjaar, in April, ingeskryf vir dié kompetisie omdat sy daarvan hou om haarself uit te daag.
Na ongeveer 149 inskrywings is die top 30 op Vrouedag aangekondig.
“Ek het glad nie verwag om die top 30 te haal nie,” het sy gesê.
“Dit is ‘n onwerklike gevoel, een van die bestes nog.”
Meisies tussen die ouderdomme 16 en 18 kon inskryf vir Sarie Nuwe Gesig 2022.
Alhoewel dit die eerste keer is wat sy aan ‘n groot kompetisie soos dié deelneem, vertel sy dat sy baie by haar ma, Charlene Schmidt leer omdat dié ‘n model agtergrond het.
“Hierdie moederhart bars van trots. Ons is geseën met ‘n pragtige kind van binne en buite,” het Charlene aan die Herald vertel.

Also read: Sharoney se nuutste musiekvideo bekendgestel

Alhoewel dié gesin in Krugersrus in Springs woon is die 16-jarige is tans ‘n Graad Tien leerder aan Hoërskool Stoffberg waar sy haar veelsydige talente beoefen.
Sy neem nie net aan netbal en atletiek deel nie maar is ook tans deel van die skool se revue.
Sy neem vanjaar deel aan die Dell’Arte Kunstefees en is tans ‘n finalis vir Mej Stoffberg wat in September sal plaasvind.
Shikira vertel sy hou daarvan om kanse te waag en daarom het sy besluit om vir die Nuwe Gesig kompetisie in te skryf.
“As jy nie ‘n kans vat nie, sal jy nooit weet hoe dit kan uitdraai nie en dit hou die lewe baie interessant,” het sy bygevoeg.
Om die Nuwe Gesig van Sarie te wees behels dat jy ‘n ambassadeur vir hulle moet wees.

Also read: RSG en lekker musiek op die ope oseaan

“Ek glo ek het die vermoë om op te tree as ambassadeur asook om jonger meisies te inspireer deur om vir hulle te wys dat sosiale media soms ‘n wanindruk skep van perfeksie.”
Die boodskap wat Shikira met ander meisies wil deel is dat hulle nie soos ander moet probeer wees nie.
“Wees jouself eerder as om die persoon te wees wat die wêreld dalk wil he jy moet wees.”
Op hierdie stadium val daar daagliks ‘n meisie uit die top 30 tot daar uiteindelik net vyf finaliste oorbly.
Die wenner van Sarie Nuwe Gesig 2022 word op 4 Oktober op Sarie se webwerf aangekondig word en verskyn dan op die voorblad van ‘n kleiner Sarie uitgawe in November/Desember.
“Net om deel van die Top 30 te wees, is reeds ‘n reuse voorreg, maar om op die voorblad te verskyn sal ‘n bonus wees.”

Follow us on our social media platforms:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version