Lian leef voluit ten spyte van siekte

Die Springs Advertiser het in die verlede oor die dapper seuntjie berig.

Lian van Eyk is nie die gemiddelde ses-jarige kind nie, maar hy laat ook nie toe dat struikelblokke hom onder kry nie.
Die Springs Advertiser het in die verlede oor die dapper seuntjie berig. Sy ouers, Hanti (37) en Doné (40), het hom as ’n bondeltjie vreugde wat hul lewens vervul, beskryf.
Lian het nie mylpale bereik soos die gemiddelde kind nie.
Hy kon nie kruip, loop of staan nie en het geen beheer oor die spiere in sy nek gehad nie. Hy is later gediagnoseer met LMNA-verwante aangebore spierdistrofie. Dit is ’n toestand wat spiermassa afbreek en verswak.
“Dit was ’n rou proses wat ons as gesin moes deur werk. Ons het drome vir ons kinders en dit was moeilik om te aanvaar dat dit nie noodwendig bewaarheid gaan word nie,” het Hanti gesê.

Also read: SPCA needs your help

Lian het vroeg al sy eerste hulpmiddel ontvang wat hom gehelp het om te loop.
Later het hy ’n rolstoel ontvang wat spesiaal vir sy liggaam gemaak is. Die stoel word aangepas soos wat hy groei en ouer word.
“Lian geniet die stoel te veel en dink hy is ’n Formule Een bestuurder,” het Hanti genoem.
Die Van Eyk gesin moes egter aanpassings maak met die diagnose van hul seun. Opritte in en om die huis asook aanpassings met hul voertuie is net ’n handjie vol veranderinge wat die gesin moes aanbring.
Hul woning is ten volle ingerig sodat Lian self en onafhanklik kan rond ry.
As gevolg van die feit dat hy sy eetlus verloor het, weeg hy net 10.5kg.
Hy kry kos in deur ’n voedingsbuis wat op ’n daaglikse basis kontroleer hoeveel voedsel hy moet inneem.
Die diagnose het egter meer uitdagings omdat daar nie baie navorsing oor LMNA is nie, wat die gesin onseker maak oor die toekoms. Daarom is bewusmaking vir die gesin belangrik.
Alhoewel Lian nie noodwendig aan alledaagse aktiwiteite kan deelneem soos ander ses-jariges nie, kry dit hom beslis nie onder nie. Krieket, rugby en sokker is sy gunsteling sportsoorte en hy geniet dit om video speletjies te speel.

Also read: Common eye diseases in children

Lian is loshande die Springbokke se grootste ondersteuner. Wanneer daar ’n rugbywedstryd aan is, is hy vasgepen voor die televisie en sing Nkosi Sikelel’ iAfrika uit volle bors.
Hy ken ook elke speler by die naam en kyk vreeslik op na Cheslin Kolbe.
Met die hulp van vriende kon hulle daarin slaag dat Kolbe ’n vooraf opgeneemde video vir Lian maak waarin hy hom bedank het vir sy ondersteuning.
Die egpaar, wat twee ouer kinders het, Leané (19) and Duan (14), hou graag vakansie en neem vir Lian na plekke waar hy nog nie was nie.
“Ons wil hê hy moet die lewe geniet en nuwe plekke sien,” het Hanti gesê.
Lian word beskryf as ’n kind wat altyd glimlag en gereed staan met ’n grappie.
Alhoewel hy tog skaam en teruggetrokke is, is sy grootste droom om eendag die volkslied saam met die Springbokke voor ’n rugbywedstryd op die veld te sing.

Follow us on our social media platforms:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version