Sakeman se dood laat gemeenskap verslae

Volens Pieter Jordaan het sy pa tevergeefs probeer om sy gesin teen die gewapende rowers te beskerm.

Nabye vriende en familie sal vanoggend (Vrydag) om 10:00 afskeid neem van bekende sakeman Johan Jordaan (65), wie Maandagoggend by sy besigheid in Geduld tydens ’n rooftog doodgeskiet is.
Sy dood het die gemeenskap verslae gelaat en die talle blommeruikers wat na die voorval voor die deur van die onderneming geplaas is, asook die boodskappe van medelye wat op die onderneming se deur geskryf is, is bewys van die diep spore wat die man deur baie jare in die dorp getrap het.

Die Jordaan-gesin was baie geheg aan mekaar en het gereeld gekuier en vakansie gehou.

Jordaan en sy vrou, Stephne, het Mr Lawnmower & Pool die afgelope 38 jaar bedryf.
Die egpaar se dogter, Jackie Bentley, wat ook daar werksaam is, was ten tye van die voorval saam met haar ouers in die gebou.
Volgens hul oudste seun, Pieter Jordaan, wie in Pretoria woon, het sy pa tevergeefs probeer om sy gesin teen die gewapende rowers te beskerm.

Johan Jordaan saam met sy seun Jorrie by sy huwelikseremonie wat op 28 Augustus plaasgevind het. Jorrie moes Maandagoggend toe hy van sy wittebrood terugkeer hoor dat sy pa oorlede is.

Hul jongste seun, ook Johan (Jorrie) het Maandagoggend van sy wittebrood af teruggekeer.
“’n Vriend het hulle by die lughawe ingewag met die slegte tyding, waarna hulle ook na die besigheid gegaan het,” het Pieter vertel.
Die Jordaan-egpaar het die afgelope 26 jaar in Petersfield gewoon, waar Jackie en Jorrie ook hul onderskeie wonings het.
“Ons was ’n baie hegte gesin wat gereeld saam gekuier en vakansie gehou het,” het Pieter gesê.
Pieter en sy gesin was juis Sondag by sy ouerhuis, waar hulle gebraai en gekuier het.
“Ons sal ons pa altyd onthou vir sy liefde, deernis en ondersteuning wat hy vir ons almal gebied het.
“Hy was ’n persoon wat baie beginselvas was en alhoewel hy soms ongeduldig voorgekom het, was hy ’n baie liefdevolle mens met ’n goeie hart,” het Pieter gesê.
Volgens Pieter was sy pa baie lief vir die natuur en het hy graag gejag, tuingemaak, motorfiets gery en gaan blomme kyk.

Vriende, familie, besigheidsmense en die gemeenskap het Maandag, nadat die nuus van Johan Jordaan se dood bekend geraak het, blomme voor die besigheid se deur gaan plaas.

Die gedenkdiens word vanoggend op Vinklvlei gehou.
Kapt Johannes Ramphora, die woordvoerder van die Springs SAPD, het gesê dat Jordaan Maandagoggend in sy kantoor was toe twee rowers die onderneming binnegegaan het en een van die werknemers uitgevra het oor die grassnyers wat vertoon word.
“Die werknemer het agterdogtig geraak oor die twee toe nog drie mans die winkel binne gegaan het en by die ingang bly staan het.

Also read: Springs mourns the loss of popular doctor

“Die werknemer het glo aan Jordaan se vrou gesê dat hulle beroof gaan word, waarop sy haar man geroep het.
“Jordaan het met sy vuurwapen uit die kantoor gekom en ’n man gewaar wat ’n vuurwapen op sy vrou gerig het, waarna hy dadelik op hulle begin skiet het.
“Een of meer van die rowers het teruggeskiet en Jordaan is in die nek gewond,” het Ramphora gesê.
Die rowers het daarna in ’n wit Nissan van die toneel gevlug en in die proses ’n rewolwer in die straat buite die winkel laat val.
Volgens inligting het die vlugtende mans een van hul medepligtiges, wat raak geskiet is, na die Pholosong Hospitaal gehaas, waar hulle hom by ontvangs gelaat het.
Hy is met sy aankoms dood verklaar.
Die rowers se wegkommotor is ook by die hospitaal gelaat.
“Ons is steeds op soek na die ander vier verdagtes wat by die rooftog betrokke was,” het Ramphora gesê.
’n Saak van moord is by die Springs Polisiestasie geopen.

Also read: PAC mourns the death of one of its founding member

Follow us on our social media platforms:

Exit mobile version