Local newsNews

Leer jou mense ken

Gee ’n kort beskrywing van jou loopbaan in die onderwys tot en met jou aanstelling as die adjunkhoof van Hoerskool Hugenote.

Frina du Toit (50) is die nuwe adjunkhoof van Hoërskool Hugenote. Sy is getroud met Dirk (58) en hulle woon met hulle drie kinders, Nina (17), Caro (16) en Jana (13), in Petersfield.

• Gee ’n kort beskrywing van jou loopbaan in die onderwys tot en met jou aanstelling as die adjunkhoof van Hoërskool Hugenote.
Ek het gematrikuleer in 1988 aan die Hoër Meisieskool Hugenote en voltooi in 1993 my studies aan Potchefstroom Universiteit waar ek BSc Hons in biokinetika, sportwetenskappe en opvoeding studeer het. Ek begin in 1994 by Sunwardpark High School werk as eerstejaar onderwyseres. In 2001 het ek aanbeweeg na Hoërskool Dr Johan Jurgens om nader aan die huis te wees. In 2003 is ek aangestel as departementshoof vir fisiese wetenskappe en lewenswetenskappe. In 2014 word ek aangestel as adjunkhoof vir akademie en is na 27 jaar in die onderwys in Januarie as adjunkhoof van Hoërskool Hugenote.
• Adjunkhoof is ’n groot taak met baie verantwoordelikheid. Waarna sien jy die meeste uit?
Hoërskool Hugenote is legendaries vir die kultuur van hardwerkendheid en die strewe na uitnemendheid deur elke lid van die personeel, en die kinders floreer in daardie atmosfeer. Ek wil graag so gou moontlik inskakel om die personeel en leerders te kan bystaan en rig met die uitdagings wat voor hul staan.

Also read: Back to school for Hoërskool Hugenote

• Covid-19 het “normale skool” op sy kop gekeer. Wat het jy geleer sedert die aanvang van die pandemie?
Ek het geleer dat onderwysers werklik ’n besonderse groep mense is wanneer dit kom by onbaatsugtige diens aan hul leerders en kollegas. Geduld met mekaar het ruimte geskep om te waag om iets nuuts te probeer, sonder dat daar vrees was vir kritiek. Almal was op ongebaande weë in die Covid-19 skooljaar, maar nie een onderwyser het sy arms gevou nie. Ek dink onderwysers het harder gewerk as ooit vantevore. Ek het besef hoe belangrik dit is om te bly hoop, en ek het geleer dat ons party dae genade ontvang om die moeilike te verduur en ander dae ontvang ons genade om die dag te geniet.
• Is dit moeiliker vir leerders of onderwysers om Covid-19 te hanteer?
Ek is van mening dat die Covid-19 jaar onderwysers die meeste uit hul gemaksones uitgeneem het. Hul moes om die beurt vroeg opstaan om 6.30vm of vroeër reeds op hekdiens te staan met ’n temperatuurleser en vraelys, dan het hul ook dieselfde les nie net op sosiale media aanbied nie, maar ook oor en oor vir die leerders wat op ’n rotasiebasis skool toe kom. Miskien was dit emosioneel ’n groter uitdaging omdat die toekoms so onvoorspelbaar was. Onderwysers hou as ’n reël van vroegtydige inligting en sekerlik so ook ons ouergemeenskap, maar Covid was vol van die “met onmiddellike effek” en nuwe protokol wat vir ’n onbepaalde tyd aangekondig is. Ek salueer elke onderwyser wat ten spyte van die buitengewone aard van omstandighede nie opgehou het om hul leerders te ondersteun nie.
• Gee jy steeds klas en watter vakke bied jy aan?
Ja, ek gee steeds klas en sal hierdie jaar vir die senior groepe fisiese wetenskappe aanbied.
• Wat is jou benadering ten opsigte van dissipline in ’n skool?
Ek glo baie sterk in ’n fondasie van dissipline wat in elke klas gevestig behoort te word. Binne die raamwerk van duidelike grense en wedersydse respek kan ’n kind veilig voel en fokus op sy akademie. Wanneer ’n kind iets verkeerd doen, vind ek eers uit of hy geweet het dit is verkeerd, indien nie, is dit ’n geleentheid om die kind iets te leer. Sou ek egter uitvind dat die kind geweet het dat wat hy doen is verkeerd, is die logiese afleiding om te maak dat die kind moedswillig is. Moedswilligheid voed ’n onleerbare gees en sal die kind isoleer van sy roeping. Sulke kinders kry gewoonlik meer van my aandag, met die hoop dat hulle tot beter insigte sal kom.

Also read: Nuwe hoofleiers by Hugenote

• Watter boodskap het jy vir die ouers en die leerders van Hugenote?
Aan elke Hugie en ons ouers wil ek graag sê moet nooit moed verloor nie. Die personeel van Hugenote dra die belange van ons kinders op die hart. Vertrou ons asseblief om die beste besluit te neem in die lig wat ons het, sodat u kind daarby sal baat. In die tye wat ons nou leef is verandering onvermydelik. Ons vra dus hou asseblief die kommunikasiekanale oop tussen die skool, u as ouer en u kind en sy onderwyser. Wees asseblief sag met jou onderwysers, hul doen regtig hul bes en sal eerder u woorde van waardering as woorde van kritiek wil hoor. Liewe ouers en Hugies, bly hoop en droom oor die lewe. Laat jul woorde in die huis en tussen jul vriende opbouend wees wanneer jul voor die kinders praat. Kinderharte is gemaak vir droom. Help ons personeel om weer die drome in kinderharte lewe te gee deur te glo in die voorsiening van ons Here Jesus Christus, selfs in tye wanneer dit onmoontlik lyk.
• In jou persoonlike opinie, wat kom binne die perfekte skool kosblik?
Ek wil begin deur te sê dat die beste skool kosblik net so goed is as die oggend se ontbyt. Tientalle tieners se kosblik se inhoud sien nie eers die eerste pouse nie, want hul het dit lank voor die pouseklok reeds opgeëet. Begin dus die dag met ’n goeie ontbyt en vul dan die kosblik aan met ’n volgraanbroodjie en ’n vrug. Na gelang van jou begroting kan jy dan neute en rosyne of ’n stukkie biltong bysit asook ’n vrugtesap of bottel water. Vermy die sjokolades en die koeldrank met hoë kafeïeninhoud vir jou kind se onthalwe.
• Wat doen jy graag in jou vryetyd?
Ek werk graag in my tuin en doen bietjie houtwerk. Indien tyd dit toelaat gaan ons gesin graag stap en is ons ook ywerige voëlkykers.
• Verkies jy die see of die bos en waarom?
Die fynbos in die Wes-Kaap en die berge is my gunsteling – wanneer ek daar is, staan ek konstant in verwondering oor die wonder van God se skepping. Berge gee my perspektief vir wat werklik groot is in die lewe.

Follow us on our social media platforms:

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button