CrimeNews

Bejaarde egpaar in hul slaap oorval

Die mans het deurentyd vir geld gevra en daarop aangedring om die kombinasie vir die kluis te kry.

’n Egpaar van Struisbult is verlede Sondagoggend getraumatiseerd gelaat toe hulle in die vroeë oggendure in hul slaapkamer deur drie inbrekers oorval is.
Babs (71) en Hampie Hechter (75) was ongeveer 4.20vm rustig aan die slaap toe die booswigte toegeslaan het.
“Ek het wakker geword toe ek ’n gevroetel hoor en gedink dit is my man wat wou opstaan,” het Babs vertel.
“Voordat ek mooi besef wat aangaan, was daar drie mans by ons in die donker kamer.
“Ek het gehoor hoe die een vir my man sê om stil te lê.
“Ek het probeer omdraai om te kyk wat aangaan, maar daar is vir my gesê om stil te lê.”
Volgens Babs het een van die mans ’n flitslig gehad en kon sy uitmaak dat een van die ander ’n kapmes in die hand gehad het.

Also read: Business robbery in Bakerton

“Die een by Hampie het ’n knopkierie teen sy nek gedruk.”
Hampie se hande is eerste vasgebind en toe Babs s’n, met die koord van haar haardroër.
“Ek het maar net gelê en bid, want ons was regtig hulpeloos,” het sy gesê.
Babs het vertel dat die mans deurentyd vir geld gevra het en daarop aangedring het om die kombinasie vir die kluis te kry.
“My man het dit vir hulle gegee, maar hulle kon nie daarin slaag om die kluis oop te kry nie.
“Hampie is op ‘n stadium na die kluis geneem en nadat sy hande losgemaak is moes hy self die kluis oopmaak.
“Genadiglik en onverklaarbaar het hulle niks uit die kluis geneem nie,” het Babs gesê.
Die inbrekers het egter al Hampie se skoene en Babs se juwele, asook selfone en bankkaarte, geneem.

Babs Hechter se hande is met die elektriese koord van haar haardroër vasgebind. Dit het ’n kneusmerk en ’n onaangename herinnering gelaat.

Hulle het ook ’n televisie, mobiele lugversorger en waaier, asook ander kleiner items wat in die sitkamer was, gevat.
Die erf is goed beveilig, maar die inbrekers het toegang gekry deur ’n paneel aan die onderkant van die buitemuur uit te breek.
Nadat hulle op die vlug geslaan het, is die egpaar te hulp gesnel deur familielede wat in ’n woonstel op die perseel bly.
Die Hechters, wat al vir die afgelope 43 jaar in die huis woon, glo dat die onmiddellike omgewing om hul huis ’n lushof vir booswigte skep.
Hul huis is op ’n hoek geleë en oorkant die pad, aan beide kante, is twee onvoltooide wonings wat al vir jare net so staan.

Also read: House robbery in Welgedacht

Die gras groei welig en hoog en bied die ideale skuiling vir iemand wat planne in die mou voer.
Die egpaar noem dat hulle die situasie al vele kere aangemeld het, maar dat dit op dowe ore val.
“Hier kom nooit eens meer iemand by die twee wonings wat leeg staan nie,” het Babs vertel.
“Ons bly al soveel jaar lekker in ons huis en ons sal nie graag wil verhuis nie.
“Die voorval was egter baie traumaties en iets wat ’n mens altyd sal bybly.
“Dit sal voorwaar help indien die erwe waarop die half-voltooide huise staan skoongemaak kan word,” het sy gesê.
Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.

Follow us on our social media platforms:

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button