Oud-verkeershoof van Springs oorlede

Frans Jacobs van der Linde is in 1988 aangestel as verkeershoof van Springs, maar sy verbintenis met die verkeersafdeling het oor baie jare gestrek.

‘n Oud-verkeershoof, wat vir jare lank die dorp gedien het, is onlangs op die ouderdom van 85 jaar oorlede.
Frans Jacobs van der Linde is in 1988 aangestel as verkeershoof van Springs, maar sy verbintenis met die verkeersafdeling het oor baie jare gestrek.
Hy is op 3 Februarie 1953 in Coligny, Noordwes Provinsie, gebore.
Tydens sy kinderjare en as jong seun het Frans sy pa bygestaan om onder andere katoen, mielies en tabak te kweek.
Na skool het hy aangesluit by die destydse polisiekollege in Pretoria en na die voltooiing van sy basiese opleiding het hy in Nigel sy eerste patrolliediens begin.
Dit is ook in dié tyd dat hy sy toekomstige vrou, Chrissie, ontmoet het en hulle is op 4 Februarie 1956 getroud.
Frans het in 1959 by die Springs verkeersafdeling as verkeersbeampte begin werk.
Gedurende dié tydperk was hy by verskeie afdelings betrokke, onder andere die tegniese afdeling, die skole patrolliedienste asook by die laerskool padveiligheid opleidingsentrum te Geduld.
Sy leierskap en vermoë om met die jeug te werk het tydens hierdie tydstip sterk na vore gekom.
Hy het verskeie range beklee en is in 1988 aangestel as verkeershoof van Springs.
Tydens sy termyn as hoof het hy die dorp verteenwoordig by die jaarlikse Suid-Afrikaanse konferensies van verkeershoofde.
Hy het op 28 Februarie 1993 afgetree om een van sy lewenspassies uit te voer.
Frans het ‘n stuk grond in Welgedacht by Transnet gehuur om met beeste en skape te boer. Daar het hy hom uitgeleef totdat sy kontrak met Transnet verstryk het.
Hy het teruggetrek na Casseldale waar hy gewoon het totdat hy op 28 September oorlede is.
Frans was vir jare baie betrokke by sy kerk waar hy as ouderling gedien het. Hy was ook betrokke by die jeugaksie van die NG Kerk, Springs Sentraal en by die Voortrekkerbeweging.
Hy was tot die einde van sy lewe ‘n sterk man wat gerespekteer en Godvresend was.
Hy word oorleef deur sy vrou, vier kinders, 10 kleinkinders en 13 agter-kleinkinders.
‘n Gedenkdiens word Dinsdag (6 Oktober) om 11vm vanuit die NH Kerk, Springs-Oos gemeente gehou.

Follow us on social media:

Exit mobile version