Local newsNews

Sannie Woest is steeds lief vir Springs

Soos dit ’n gerespekteerde motoris betaam, sien sy voor elke rit na haar voertuig se netheid om voor sy die pad vat.

Sannie Woest, alombekende inwoner van Springs, het op 29 November 90 jaar oud geword.

Die geleentheid is by haar kerk gevier, waar haar kinders, familie en vriende in die vreugde kon deel.

Woest, wie se lewe hoofsaaklik daaraan gewy is om ander te help, geniet goeie gesondheid en bestuur haar eie mototr.

Soos dit ’n gerespekteerde motoris betaam, sien sy voor elke rit na haar voertuig se netheid om voor sy die pad vat.

Sy en haar man, Pieter, was stigterslede van die Pinkster Protestante Kerk in Petersfield in 1959.

Baie jong kinders is in die Sondagskool deur haar onderrig, en vele van hulle het later jare as predikers in die voltydse kerklike bediening gestaan.

Haar gemeente het ook baat gevind by haar getroue biduurbywoning, vroue-uitreikaksies en haar bakwerk vir kerkgeleenthede en fondsinsamelings.

Juis vanweë haar sinvolle lewe dwing sy onwillekeurig respek af.

Sy woon sedert 1940 in Springs en het onder andere by Die Addie in die drukkersbedryf gewerk.

Haar man het haar ontval toe sy 61 was en sy woon vir die afgelope 15 jaar by haar dogter.

Sy verrig steeds getrou haar daaglikse huistakies.

Woest sê: “Ek voel baie goed op 90.

“Die jare was maar hard op my, maar dit gaan baie goed met my.”

Woest sê dit was die Here wat haar duer die jare gebring het, en haar geloof is baie belangrik vir haar.

Van Springs sê Woest: “Ek is baie lief vir die dorp.

“Ek het nog altyd gesê Springs is die best dorp in die Oos-Rand.”

Woest is baie lief vir die mense van Springs en sê: “Ek dink die mense moet vorentoe kyk en nie te veel aan die verlede dink nie.”

Met haar positiewe lewensingesteldheid kyk sy die toekoms in, waar sy hoop om as Christen steeds ’n verskil in die Springs gemeenskap te maak.

Follow us on our social media platforms:

Related Articles

Back to top button