Springs se Afrikaanse skole spog met goeie getalle

Met die bekendstelling van 2017 se Senior Nasionale Sertifikate-resultate het Springs se matrieks hul skole se naam hoog gehou.

Hier is die resultate van die hoërskole:

Hoërskool Dr Johan Jurgens (Dual-medium)

Dié skool spog met ’n 99.3 persent slaagsyfer; ’n verhoging van laasjaar se 98.2 persent.

Met 141 matrikulante spog die skool ook met 52 onderskeidings vir die graad en 76 universiteitstoelatings.

“Ek is baie, baie trots op die leerders van 2017 en al hulle harde werk asook die groot spanpoging van die personeellede wat vir niks teruggestaan het nie,” sê Johan de Wit, skoolhoof.

Lees ook: Afrikaanse skole behaal top prestasies

Hoërskool Hugenote

Met ’n verbetering van laasjaar se 97.5 persent slaagsyfer het Hoërskool Hugenote ’n 98.3 persent slaagsyfer vir 2017 behaal.

Uit die 168 leerders wat matriekeksamen geskryf het, het 100 universiteitstoelating verower en 95 onderskeidings bymekaar gemaak.

Skoolhoof Frans Styger vertel dat hulle baie tevrede met die skool se resultate is.

“Alhoewel ’n 100 persent slaagsyfer fantasties sou wees, is ons steeds tevrede.”

Lees ook: Vele onderskeidings vir Afrikaanse skole

Protea Skool

Vir die eerste keer in 16 jaar het Protea Skool se slaagsyfer met ses persent gedaal.

Die skool het vir 16 jaar met ’n 100 persent slaagsyfer gespog, maar het met die 2017 uitslae na 94 persent geval, wat steeds ’n goeie getal is.

Uit die 31 leerders het drie universiteitstoelating verower en die skool het twee onderskeidings.

Protea is ’n instansie vir leerders met spesiale onderwysbenodighede, maar wat steeds normale Nasionale Senior Sertifikate eksamens skryf.

Skoolhoof Wynandes Bezuidenhout sê hulle is tevrede met die leerders wat die skool as bevoegd verklaar het.

“Ons is tevrede met die standaard van die skool, omdat ons ook al die tegniese vakke aanbied.

“Ons is ook baie meer gespesialiseerd en bied vakpakette aan met die doel om leerders vir werk voor te berei.”

Hoër Tegniese Skool Springs (HTS) – Dual-medium

HTS spog met ’n 91 persent slaagsyfer vir 2017; ’n klein afname van verlede jaar se 95 persent.

Uit die 100 matrieks wat geskryf het, het 13 universiteitstoelating gekry en die skool het ses onderskeidings verwerf.

“Ons is baie tevrede en trots op ons leerders wat tegniese matriek geslaag het; daar is baie werksmoontlikhede vir hulle,” vertel skoolhoof Marina Rathe.

Dr WK du Plessis Skool en Olympia Park Skool kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Exit mobile version