Kersete met ‘n verskil

VLU se jaareindfunksie met 'n Kersboodskap.

Die Vroue Landbou Unie, Carpe Diem middag-tak, het Woensdag hul jaar se aktiwiteite met ‘n Kersete afgesluit.

Die tafels by Flora Hill in Rowhill was met ‘n Kerstema versier.

Tak voorsitter Christa van der Westhuizen het elkeen welkom geheet en voordat die eerste gereg bedien is het Tharina Pieterse die doel van die Kersverhaal verduidelik en ook die verrigtinge met gebed geopen.

Haar boodskap aan elkeen teenwoordig was dat God elke Carpe Diem-tak lid gedurende die feesseisoen sal behoed en bewaar en dat hulle dankbaar sal wees en almal die klein dingetjies in die lewe te waardeer.

“My wens is dat ons verdraagsaam teenoor ander sal wees en dat ons ware liefde aan die geringstes sal openbaar,” sê Tharina.

Na die hoofmaal bedien is, het Joyce Enslin ‘n gedig wat al die gaste tong in die kies laat lag het voorgelees.

Salomo o Salomo

‘n bul onder die bulle:

hy het vrouens liefgehad –

Ja honderde van hulle

Maanskyn, rose en geluk

Elke week ‘n huwelik

élke week ‘n resepsie,

élke week ‘n opskopdans

met gemmerbier en Pepsi…

Die nagereg was vir ‘n ieder en elk ‘n treffer en daarna het almal heerlik saamgekuier totdat dit tyd was om te groet.

Tharina en Joyce se boodskappe is as padkos deur elke gas geneem totdat hulle weer in 2018 vir hul eerste vergadering sal bymekaarkom.

Voorlesings uit: Daar’s Bitterals in die Heuningwals deur Phillip de Vos.

Exit mobile version