Local newsNews

Vrou met die groot hart

“Ek het groot geword met 'n hart vir behoeftige mense, daarom sal ek altyd help.”

Vir die afgelope 12 jaar ontferm Hadassah Meyer haar oor minderbevoorregte families in Endicott en Vischkuil.

Weekliks voorsien sy 32 kinders van kos en laai kruideniersware by hul huise af.

“Dit gaan eintlik oor die kinders vir wie ek ’n baie sagte plekkie het,” sê Hadassah.

Elke jaar het sy vir hierdie kinders ’n Kerspartytjie gereël maar het hierdie jaar van plan verander.

Lees meer: Kersvader bederf 44 minder bevoorregte kinders

“Ek tree op soos die Here my lei,” sê sy.

Dus het sy die boodskap ontvang om liewer na die mediese sy van sake te kyk.

Hadassah sê hierdie mense het nie noodhulpkassies in hul besit nie, soms nie eers die gewone naarpil, hoesstroop of kopseerpille nie.

Haar medisyne mandjies sluit die basiese benodighede soos hoofpynpille, hoesstroop, Vicks, keelseerpille, koors en omgekrapte maagmedisyne, oorpluisies en vele ander noodssaaklikhede in.

Lees ook: Pink Pistols het ‘n hart van goud

Sy voel as ’n kind in die nag wakker word met koors, het hierdie ouers nie medisyne om die kind se koors af te bring of ’n loopmaag te stop nie.

Intussen het sy ook tweedehandse klere wat sy was en regmaak deur ritssluiters en knope te vervang.

Sy maak die skoene skoon en heel waar moontlik sodat dit gepas sal wees om uit te deel.

“Dit is miskien tweedehands, maar waardig genoeg om uitgedeel te word aangesien ek 100 persent seker maak die klere is heel en skoon voordat ek dit uitdeel,” sê Hadassah.

Dan voorsien sy ook die kinders van skryfbehoeftes, skooltasse en vele meer.

“Die mense wat my gereeld bystaan met ’n donasie het die reg om te weet wat ek met hul geld doen,” sê sy.

Hadassah het eers onlangs die skole se skryfbehoefte lyste ontvang en sy het alreeds begin om die nodige vir die kinders aan te koop.

Vir haar gaan dit om te help waar die behoefte ontstaan.

Soms ontvang sy ook lappe waarmee sy lakens en kussingslope vir ‘camping cots’ maak wat sy dan ook aan nuwe mammas uitdeel.

Sy het onlangs ’n 15-jarige dogter wat ’n babadogtertjie gehad het van babaklere en bottels voorsien.

“Daar is nog ’n 15-jarige dogter wat binnekort geboorte aan ’n seuntjie gaan gee; vir haar sal ek definitief ook met die nodige help,” sê Harassah.

Sy wou al handdoek ingooi, maar sy voel dit is die kinders wat daaronder lei indien sy nie kan help nie.

Haar kleindogter Amored Myburgh (17) het net so passie vir behoeftige mense en Hadassah se wens is dat Amored by haar sal oorvat.

Related Articles

Back to top button