Geluk in oorvloed na Henrico Sassa kaart ontvang

Breingestremde seun se Sassa toelaag weer beskikbaar.

Henrico Smith (18) is dankbaar dat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) vir hom ’n tydelike ongeskiktheidstoelaag toegestaan het.

Die toelaag is Dinsdag na vele omstredenheid aan hom toegeken.

“Ons sal in Desember 2018 heraansoek moet doen, maar ten minste kan ek nou weer my ouma, Rika Smith, help,” sê Henrico.

Lees ook: Hoop op die horison vir Henrico

Rika (56) se hart het uit haar keel gespring van opgewondenheid toe die Sassa kantore hulle kontak met die nuus dat haar kleinseun se toelaag toegestaan is.

Hulle het in Oktober aansoek vir ’n afhanklikheidstoelaag gedoen, maar die dokter het glo gevind Henrico het nie 24-uur spesiale versorging nodig nie en daarom was die aansoek onsuksesvol.

“Alhoewel Henrico vanjaar met skool klaargemaak het, hy was by Felicitas Skool in Brakpan, kan hy nie lees nie en sukkel nog op vlakke van klein kinders,” sê Rika.

Lees ook: SASSA toelaag weer beskikbaar vir Henrico

Haar grootste bekommernis, omdat sy onlangs met verskeie kankers gediagnoseer is, is hoe Henrico gaan oorleef as hy nie ’n Sassa toelaag ontvang nie.

Dinsdag het sy die skokkende uitslae van haar bloedtoetse ontvang en sy moes hoor dat sy rug- en beenmurgkanker het, ’n vergrote lewer, milt en niere, asook hartversaking en veelvuldige sklerose het.

“Dit vererger alles en as ek so siek is hoe moet ons sonder sy toelaag oorleef?”

Rika is Henrico se enigste oorlewende familielid en sy sê dit is moeilik om vir hom sonder sy toelaag te sorg.

Lees ook: Vrou staan derde kind af aan dood

Sy ma, Annetjie Smith (37), is in 2015 na ’n kort siekte tyd oorlede.

“Ek is al wat hy in die lewe oor het,” sê Rika.

Maar sy het nie moed opgegee nie en het haar reg om te appelleer gebruik en dadelik die Sassa kantore besoek om hulle te vra om hul besluit te heroorweeg.

“Ongelukkig is ons tweede aansoek ook nie toegestaan nie,” sê Rika.

Moedeloosheid het toegeslaan en sy kon nie verstaan hoekom hulle nie die toelaag vir hom wou gee nie omdat hy al sedert 2009 ’n toelaag ontvang.

Nadat die Addie Sassa se kantore gekontak het, het iemand van hul hoofkantoor vir Rika gebel en ’n afspraak was vir Dinsdag gemaak.

“Sassa het die dokumentasie afgehandel en ons het sy tydelike kaart Dinsdag ontvang,” sê Rika verlig.

Exit mobile version