Pink Pistols het ‘n hart van goud

Kinders het die Pink Pistols se Day Jol boeresport geniet.

Die Pink Pistol Motorfietsklubdames het gretig ingespring om geld vir minderbevoorregte kinders van Geduld bymekaar te maak.

Saterdag het daar omtrent 450 kinders by die Springs Rugbyklub opgedaag en elk het met ’n kospakkie, wat ’n gesin van omtrent ses kan voed, asook met ’n toiletware geskenkpak, weggestap.

Jinx Terblans van die Pink Pistols het gesê die toiletware het ’n tandeborsel, tandepasta, seep en ’n waslap ingesluit.

“Die soya maalvleis is gemeng met rys en ander droë bestanddele wat ’n voedsame maaltyd maak,” het sy gesê.

Voor al die formaliteite afgehandel was en Kersvader op sy mooi blink rooi driewielmotorfiets opgedaag het, het die kinders eers aan sportaktiwiteite deelgeneem.

Vir Jinx was dit die hoogtepunt van die dag.

“Dit was wonderlik om te sien hoe die kinders die hindernisbaan geniet het.

“Ons het motorbande, dromme en ’n net gepak.

“Die kinders moes eers binne die motorbande tot by die dromme spring.

“Dan moes hulle bo-oor die dromme en deur ’n ander drom kruip.

“Die luiperdkruip, beter bekend as leapord crawl, was ’n katastrofe en tog te dierbaar om te aanskou,” het Jinx gesê.

Die wenners van die verskeie ouderdomsgroepe was met ’n geskenk beloon.

Jinx is baie dankbaar vir plaaslike sowel as Delmasbesighede wat met donasies ingespring het om hierdie dag moontlik te gemaak het.

Debbie Jacobs was een van die motorfietsryers wat gehelp het.

Sy het gesê dit is ’n riem onder die hart om te sien hoeveel mense nog vir minderbevoorregte gesinne omgee.

Exit mobile version