Kersvader bederf 44 minder bevoorregte kinders

Minder bevoorregte kinders geniet 'n Kerspartytjie wat hulle altyd sal bybly.

Angels United for Kids het Saterdag by Grazan Head in Dersley ‘n Kerspartytjie gehou vir minderbevoorregte kinders.

Volgens Treska van de Venter van Helpende Hande van Moeders, het die funksie vele harte aangegryp wat hulle dankbaar gelaat het.

Daar was 44 kinders van Mothers Nest en Huis Talitha in Brakpan wat eers bederf is met ‘n heerlike ontbyt voordat die dag se aktiwteite begin het.

Die boeresport was ‘n hoogtepunt en het sakresies, eierloop, eiergooi en kruiwastoot ingesluit.

Treska sê gesiggies was geverf en motorfiets ritte was ook geniet.

“Die motorfietsryers van Mac’s Motorcycle Club het die kinders die geleentheid gegee om saam met hulle op hul motorfietse te ry, tot groot vermaak van die kinders,” sê Treska.

Sy en die res van haar span wil graag vir elke persoon wat hul hand in eie boesem gedruk het met ‘n donasie, of net hulle harte oopgemaak het deur hulp aan te bied, baie hartlik bedank.

“Rooi Koos Janse van Vuuren en die die motorfietsryers van Mac’s Motorcycle Club, julle het gesiggies laat ophelder met al die geraas,” sê sy.

Aan Boeries Steyn en die manne wat hul insleep voertuie gebruik het om die geskenke en Kersvader aan te ry, nog nooit was ons in ons harte so oorweldig vir julle bydrae nie,” sê Treska,

Sy vertel dat hulle harte oorloop van dankbaarheid en dat hulle graag elke individu wil bedank, maar daar is net te veel om op te noem.

Elke individu wat bygedra het met die kos, drinkgoed en lekkernye, ‘n geskenk of ‘n bydrae gemaak het vir ‘n pakkie wat opgemaak moes word, is van onskatbare waarde.

Die kinders het springkastele gehad wat geskenk is vir die dag en die Brakpan Gemeenskaps Polisie Forum het hulp en bystand aangebied.

“Elkeen se bydrae, hoe gering ook al, julle is op ons pad gestuur vir ‘n rede en dit word so opreg waardeer,” sê Treska.

Na die heerlike dag en oorvloedige kos en lekkergoed wat die kinders geniet het, het elke kind twee Kersgeskenke ontvang sowel as lekkergoed pakkies om huis toe te neem.

Sy sê hulle het gesorg dat elke kind ‘n volledige uitrusting ontvang wat klere sowel as ‘n paar skoene insluit

Maar dit is nie al nie want elke kind het ook ‘n sakkie met toiletware ontvang.

Die toiletsak het onder andere tandepaste, ‘n tandeborsel, seep en allerlei toiletware ingesluit.

“Ons het seker gemaak die dag laat elke kind spesiaal voel en dat hulle die geleentheid sal onthou,” sê Treska.

Exit mobile version