Local newsNews

Hoop op die horison vir Henrico

'n Ouma is bekommerd oor haar breingestremde seun wat sukkel om sy Sassa aansoek te kry.

Henrico Smith (18) is weer eens sy Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) toelaag kwyt.

Sy ouma, Rika Smith (56) sê dit kom nadat hy aansoek vir ’n afhanklikheidstoelaag gedoen het en die dokter gevind het hy het nie 24-uur spesiale versorging nodig nie.

Henrico het eers ’n kinderversorgingstoelaag ontvang en is sedert 2015 aan sy ouma se Sassa toelaag gekoppel.

“Nou is dié toelaag weer gekanselleer en dit kompliseer dinge ietwat aangesien ek vir hom sorg,” sê Rika.

Sy ontvang self ’n Sassa toelaag en is Henrico se enigste oorlewende familielid.

Rika is 23 jaar gelede met sistemiese lupus eritematosus, ’n outo-immuun siekte, gediagnoseer.

Haar grootste bekommernis met die Sassa aangeleentheid is wat gaan van haar kleinkind word indien hy nie ’n toelaag kry nie en indien sy iets oorkom, wie gaan vir hom sorg.

“Henrico is breingestremd en het die verstandelike vermoë van ’n agt-jarige kind.

“Hy sukkel op sekere vlakke en kan slegs sy naam skryf. Dit bekommer my aangesien ek nie weet hoe hy gaan werk nie,” sê Rika.

Nadat hulle weer aansoek gedoen het is hulle meegedeel dat Henrico se aansoek onsuksesvol was.

Rika kan nie verstaan nie wat aangaan nie, aangesien hulle al die dokumente wat deur Sassa aangevra is ingehandig het, maar niemand het blykbaar daarna gekyk nie.

“Henrico ontvang al ’n toelaag sedert 2009,” sê Rika.

Eers was sy toelaag gekoppel aan sy oorlede ma s’n en toe aan Rika s’n.

Maar nou is hierdie Felicitas Skool leerling geregtig om sy eie toelaag te ontvang.

“Dit is nou indien Sassa die aansoek gaan heroorweeg, want ons moes ons weer, soos in die verlede, tot die Addie wend vir hulp,” sê Rika.

Rika is diep bekommerd oor haar kleinseun se toekoms en hoe sy vir hom sal kan sorg met net een Sassa toelaag.

Volgens Rika het sy Donderdag ’n oproep van Sassa ontvang waar hulle haar ingelig het dat Henrico se aansoek in heroorweging gebring gaan word.

“Dit is wonderlike nuus want hulle sou Vrydag na die doktersverslag gelyk het,” sê Rika.

Sassa woordvoerder Nandi Mosia het bevestig dat hulle Henrico se aansoek in heroorweging gebring het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button