Masjien bak pannekoek in ’n japtrap

Pannekoekliefhebbers kan gerus hierdie masjien dophou, want dit gaan nog vele pannekoeke bak.

Jan Nieuwenhuis se Japtrap pannekoekmasjien is meer as net bekend in Springs.

Die monster en sy operateurs het al sover as Oos London en Mpumalanga getrek om aan vele mense pannekoek te verskaf.

Dié 59-jarige Springs inwoner sê die pannekoekmonster het in 1990 sy ontstaan gekry.

“Tydens die kinders se laerskooldae by Laerskool Christiaan Beyers en die vele kermisse sowel as funksies, was ons altyd by die pannekoektafels betrokke,” sê Jan.

Om hierdie rede het hy toe besluit om sy eie patent te ontwerp en na 10 maande van hier verander en daar aanpas, was die masjien gereed om uitgetoets te word.

Enige mens wat lief vir pannekoek is, sal toustaan vir ’n proeseltjie.

Jan, sy vrou Magriet (59), en hul pannekoekmonster is by talle kermisse en funksies baie gewild.

Hy glo daar is baie ander masjiene, maar nie een is so spesiaal soos sy Japtrap masjien nie.

“My masjien het al talle nuuskierige agies gelok wat met hul eie oë wou sien hoe ’n masjien pannekoek bak,” sê Jan.

Die pannekoek word teen ’n hoë temperatuur gebak.

Daar is ’n kleiner masjien wat 520 pannekoeke per uur bak en dan die groter een wat 720 pannekoeke per uur kan bak.

“Wat besonders van hierdie masjien is, is dat hy bak en sny,” sê Jan.

Hy verduidelik kortliks hoe die kontrapsie werk.

Eerstens word die klaarvoorbereide deeg eweredig op die boonste drom, wat met gas verhit word versprei, dan beweeg dit na onder tot op die tweede drom en word dan op die ander kant ook gebak.

Die pannekoek is dan klaar gaar en word op die regte lengte afgesny en beweeg verder op ’n vervoerband tot waar dit by Magriet kom.

“Magriet is my regterhand met die strooi van kaneelsuiker en die oprol van die pannekoeke,” vertel Jan.

Hy is van mening dat dié monster baie geduld verg.

“Sommige dae kan dit maar moeilik gaan afhangende van die wind en weer en dit is ’n groot opoffering vir almal in die familie,” sê Jan.

Dié familiebedryf het tot verdere geleerdheid en opleiding van hul kinders wat hul altyd bygestaan het, bygedrae.

Hy sê die hoeveelheid pannekoeke wat hulle per funksie bak hang af van die aanvraag.

“Dit kan wissel tussen 750 tot 6 000 pannekoeke en tydens groter byeenkomste gebruik ons altwee masjiene met ’n span van tot nege persone wat help,” sê Jan.

Vir die Nieuwenhuis familie was dit nog altyd net ’n plesier om pannekoek by verskillende byeenkomste te bak.

Hy vertel dat hulle soveel wonderlike mense ontmoet.

“Dit is lekker om net mens te kan wees en met ons masjien beoog ons om nog baie vierkantige pannekoeke vir die honger pannekoekliefhebbers te bak,” sê Jan.

Exit mobile version