Local newsNews

Rus ’n Bietjie fondinsameling suksesvol

“Names die inwoners wil ons baie dankie sê vir almat wat die koue dag saam met ons gedeel het.”

Heelwat besoekers het Saterdag die koue aangedurf deur hul ondersteuning aan Rus ’n Bietjie Tuiste vir Bejaardes se 40ste verjaarsdagvieringe te bied.

Selfs die ‘bikers’ het besluit om die feesvieringe by te woon.

Jinx Terblans, self ’n ‘biker’, en haar man Pieter sê die koue is niks, maar die ontvangs was warm.

“Ons besef dit is vir ’n goeie doel dat hulle die fondsinsameling feesvieringe hou,” sê sy.

Mandie Prinsloo en haar vriendin Louise Oosthuizen ondersteun die tuiste al vir 15 jaar.

“My vriendin, Amanda Prinsloo, werk by Rus ’n Bietjie en so het ons ook betrokke geraak.

“Ons lewer ’n bydrae om beter lewensomstandighede vir elke inwoner te skep,” sê Prinsloo.

Hennie Nel het vir musiek, wat hier en daar ’n boeremusiek-item ingesluit het, gesorg.

Hy het vroegdag aangekondig dat die kerrie en rys reeds uitverkoop was.

Nel sê as gevolg van die kouer weer het die mense die warm kos baie geniet.

“Die mense word te min bederf en ek hoop die musiek het herinneringe aan elkeen gebring,” sê hy.

Hy en Toekie Basson (86) het heerlik op die dansvloer gekuier.

Basson sê sy het die dans geniet en het baie van die musiek gehou.

Die tuiste vir bejaardes in Sarel Cillierstraat, Paul Krugersoord is ’n nie-winsgewende organisasie wat in 1977 tot stand gebring is.

Hulle voorsien beskermde akkommodasie en versorging vir verswakte bejaardes.

Ludwig Zühlsdorff, bestuurder van Rus ’n Bietjie, sê dit was baie koud en die wind het vriesend gewaai.

Nogtans is hulle dankbaar vir elke besoeker wat tot die sukses van die dag bygedra het.

Hulle het meer as R30 000 ingesamel.

“Dankie aan aal die gemeentes, skole, besighede en elke idividu wat vir ons ’n donasie of bydrae gegee het, asook aan elkeen wat die dag saam met ons geniet het,” sê Zühlsdorff.

Hy sê hulle sien uit na volgende jaar se kermis.

Related Articles

Back to top button