Jannies se Legende-aand lewer goeie kuiertyd

Sport legendes het van heinde en ver gekom vir die jaarlikse ontmoeting met ander en vir 'n heerlike kuier.

Met ‘n stampvol Burgersentrum en 72 eregaste was Laerskool Jan van Riebeeck se Legende-aand weer eens ‘n reuse sukses.

Bekende Springbokke soos Bakkie Botha, Naas Botha en sy vrou Karen, Moaner van Heerden, Chester Williams en vele meer het die getal van omtrent 600 gaste afgerond.

Hierdie aand is ‘n jaarlikse instelling wat die organiseerders met Herman Flemmins, hoof van die laerskool aan die voortou, met groot vrymoedigheid doen.

“Elke jaar is dit vir ons ‘n voorreg om al hierdie bekende Springbokke, Proteas, boksers en atlete onder een dak te kan hê,” sê Flemming.

Vele ander legendes het heerlik saamgekuier.

Die aand se gunsteling Springbok was Danie Gerber wat met ‘n groot gejuig en handeklap verwelkom is.

Items wat beskikbaar was om opgeveil te word was ‘n All Black rugby trui, All Black rugby stewels van Dan Carter en Stephen Donald, oud-Springbok Os du randt se rugbybroek, ‘n bottel wyn wat deur die legendariese Dr Danie Craven geteken was, Protea speler Clive Rice se krieketkolf en twee van Joost van der Westhuizen se rugbytruie.

Vanjaar se funksie was ten bate van oud-Springbok Moaner van Heerden en oud-bokser Gerrie Coetzee.

Daar was nog vele ander sportsterre soos die Leeusspeler Jaco Kriel en legendes wat Carel du Plessis, Divan Serfontein, Morné du Plessis, Thys Lourens en omtrent ses van die 1995 Wêreldbeker eindstrydspelers insluit, wat heerlik tot laat saamgekuier het.

Flemming sê dit was weer eens ‘n suksesvolle funksie en hulle is dankbaar vir almal se ondersteuning.

“Die gaste geniet gewoonlik die aand ten volle en ons kan met dankbaarheid sê dit was ‘n goeie aand,” sê Flemming.

Exit mobile version