Heerlike Lente middagete

Seniors ontspan by gesellige Lente byeenkoms.

’n Stampvol saal by Malan Nel Dienssentrum het getuig van ’n suksesvolle Lente middagete wat Woensdag by die sentrum gehou is.

“Jaar na jaar geniet ons seniors werklik hierdie vriendelike en gesellige geleentheid,” sê Sarie Breytenbach, sentrumbestuurder.

Sy het die seniors vir hul bydrae tot die sentrum bedank en gesê sy is baie trots op hulle want hulle lyk al te vrolik.

“Alhoewel Lentedag reeds iets van die verlede is, het die weer en ander elemente nie saamgewerk om die geleentheid aan te bied nie,” sê Sarie.

Die Lente ete is ‘n geleentheid wat die sentrum aanbied om ander mense te ontmoet, ‘n maaltyd in goeie geselskap te geniet en die goeie tye in ‘n feestelike en aangename atmosfeer te onthou.

Omtrent 99 seniors het die middagete saam met gasspreker Christine Bester van ’n vitamine maatskappy in Edenvale bygewoon.

Seniors was kleurvol aangetrek om by die dag se tema in te pas.

Om ’n bietjie ekstra kleur by die tema te voeg het Tippi de Kock en haar vriendin Martie Smith selfs hul hoede opgedollie.

Christine het die noodsaaklikheid van kalsium en magnesium in die liggaam verduidelik.

Sy sê die seniors verstaan nie altyd die belangrikheid van kalsium en magnesium in die liggaam nie.

“Die grootste tekort in seniors se liggaam is kalsium en dit voorkom osteoporose, waar magnesium help met spierspanning en spierkrampe,” sê Christine.

Martie glo dat Christine se inligting baie insiggewend was.

“Sy het genoem dat die die kalsium- en magnesiumbalans in ons liggaam jou slaappatroon en spysvertering sal verbeter,” sê sy.

Elsie du Plessis vertel dit was ’n onvergeetlike Lente middagete.

Om die dag af te rond het almal vir Jenny Viljoen gesing wat Woensdag verjaar het.

Jenny het spottenderwys genoem dat Sarie haar vreeslik bederf het met al die gaste en die ete.

Die gaste het heerlik aan die koue vleis en slaaie geeet wat deur Sarie en haar span voorberei is.

Die ete is met roomys as nagereg afgerond.

Exit mobile version