Vroue in Aksie bydrae aan Cansa

Springs kwilt vind sy tuiste in Thabazimbi.

Die Vroue in Aksie-dames van die NG-kerk Springs-Noord het onlangs ‘n kwilt vir Koppie vir Kansa uitgeloot.

Die geleentheid het hom as deel van die dames se uitreikaksie voorgedoen.

Voorsitter van die Vroue in Aksie, Martiha de Beer, sê hulle assosieer met kankerleiers.

“Watter beter manier as om aan Cansa vir hul onbaatsugtige taak ‘n bydrae te maak,” sê sy.

Nadat die uitreikplanne rigting begin kry het, het hulle besluit om ‘n kwilt uit te loot.

Die dames het verlede Saterdag bymekaargekom en het gas motiveringspreker van Bloemfontein, Jana du Plessis, genooi.

Volgens Maritha het Jana, wat self ‘n kankerleier was, haar drie weke gelede gekontak om te hoor of die Afrikaanse sanger Jakkie Louw vir haar kan instaan aangesien sy baie siek was.

“So het ons verneem dat Jana verlede Donderdag oorlede is, slegs twee dae voor ons funksie,” sê sy.

Maar die Vroue in Aksie-dames het steeds met die funksie voortgegaan en die lootjies is verkoop.

Hierdie kwilt, wat deur Marika van der Merwe gemaak is, het ‘n allemintige R11 000 vir Cansa ingesamel.

Die kwilt is deur Tania Steenekamp van Thabazimbi gewen. Marika sê dit is harde werk vir een persoon, maar sy het die kwilt in ‘n rekordtyd voltooi.

Sy sê die appliekwerk het om en by drie dae geneem, maar om die finale produk, wat 100 persent kantoen is, te voltooi het 10 dae geneem.

“Ek het ‘n fyn aanvoeling vir mense met kanker,” sê sy.

Haar wens is dat Tania vreugde uit die kwilt sal put.

“Mag dit vir generasies in die Steenekamp familie bewaar word,” sê Marika.

Exit mobile version