Local newsNews

Plaaslike ATKV-tak wil tieners bystaan

ATKV Dames Springs-tak het bewus geword van ’n groot nood in die gemeenskap en besluit om deel te word van die Borg-’n-Sak Projek.

Die projek is daar om rugsakke wat toiletware bevat aan minder bevoorregte seuns en dogters te skenk.

Magdalie Grobler sê by nadere ondersoek het hulle gevind dat daar geweldig baie hoërskoolmeisies is wat uit huise kom wat staatmaak op die skool en kerk vir kos.

“Daar is egter ’n behoefte aan sanitêre ware ook,” sê sy.

Hierdie meisies het nie geld vir sanitêre doekies nie, en moet toiletpapier gebruik, waar beskikbaar, of hulle kies om eerder by die huis te bly.

“As ’n meisie een week per maand oor vyf jaar by die huis bly as gevolg van gebrek aan sanitêre doekies, beteken dit dat hulle meer as ’n jaar en ’n half van skoolwerk mis oor ’n vyf jaar tydperk,” sê sy.

Magdalie glo baie meisies skroom ook weg van deelname aan sport weens hierdie rede.

Die Springs-tak wil hierdie meisies die kans gee om ook ’n vol lewe te kan lei en hoërskool te geniet sodat hulle die kans het om te presteer.

“Daarom het ons dit goed gedink om die projek te loods,” sê Magdalie.

Elke deelnemende hoërskool het reeds verskeie meisies geidentifiseer wat hierdie behoefte het.

Dié tak wil aan elkeen ’n rugsak gee gevul met twee pakke sanitêre doekies, ’n tandeborsel, buisie tandepasta, koekie seep, waslap, pakkie sneesdoekies (tissues), ’n bottel sjampoe, bottel lyfroom en ’n blikkie deodorant.

In die seuns se rugsakke sal die sanitêre doekies met ’n skeermes vervang word.

Met hierdie Borg-’n-sak Projek beplan die tak om sowat 200 rugsakke wat reeds geborg is te kan vul met die produkte.

Vir meer inliging kontak Magdalie by 076 096 0365 of e-pos na woordkrag@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button