Hardloop vir Bybels

Atlete kan geld vir Bybels kilometer vir kilometer insamel tydens die Comrades Marathon wat op 29 Mei vanaf Pietermaritzburg na Durban gehardloop word.

“Trek jou tekkies aan en stel jou stophorlosie om vanjaar deel te word van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) se Hardloop vir Bybels-projek,” sê Marina Stebbing van die Bybelgenootskap.

Om deel te wees van hierdie projek kan vriende, familie, gemeentelede of kollegas atlete borg vir elke kilometer wat hulle aflê en só word geld vir die Bybelgenootskap dan ingesamel.

Borgvorms word slegs aan atlete beskikbaar gestel ná registrasievorms vir die wedloop deur die Bybelgenootskap ontvang is.

Die geld wat tydens die wedloop ingesamel word, sal gebruik word vir ’n verskeidenheid van die Bybelgenootskap se projekte wat onder meer daarop gerig is om Bybels aan arm mense beskikbaar te stel asook Bybelvertaling.

“Die geld sal onder meer gebruik word vir die vertaling van die Engelse Bybel vir Dowes, die verspreiding van Bybels onder gevangenes, graad sewe leerlinge in agtergeblewe gebiede, en aan mense in Suid-Afrika se buurlande,” sê Marina.

Vir meer inligting, kontak Marina by 011 970 4010 of stuur ’n e-pos na stebbing@biblesociety.co.za

Exit mobile version